Local sportSport

Naka Bulle, Harlequins deur na Gold Cup kwarteindrondte

Drie Carltonbeker klubs het die afgelope naweek gekwalifiseer vir die nasionale Gold Cup klubtoernooi se kwarteindrondte.

Drie klubs uit die Blou Bulle se Carltonbeker liga is steeds in die wedloop om as nasionale klubkampioen gekroon te word.

Die Gold Cup nasionale klubrugby toernooi het, danksy die ingryping van die Blou Bulle se president, Willem Strauss, vanjaar vir die eerste keer post-Covid herleef. Die tweede rondte van die toernooi, wat amptelik bekendstaan as die African Rainbow Community Gold Cup, is reeds die afgelope naweek afgehandel.

Dié toernooi word op ’n uitklop basis beslis. Dit beteken dat die deelnemende spanne elke naweek halfveer, nadat daar aanvanklik met 32 klubs afgeskop is.

Vyf van die agt Carltonbeker klubs was aanvanklik deel van die toernooi, wat volgens die verskillende provinsies se 2022 liga-uitslae saamgestel is. Daarom was Naka Bulle en Harlequins deel van die 32 spanne, terwyl Centurion as 2022 Carltonbeker kampioen as Wild Card deelnemer ingesluit is.

Danny Mokhoabane, losskakel van Naka Bulle op die aanval in Saterdag se Gold Cup wedstryd teen Springs op laasgenoemde se tuisveld in die Oos-Rand.
Foto: Elmarie Boshoff

Die Northam Rhinos verteenwoordig Limpopo in die toernooi, terwyl die Wolverines van Skeerpoort as verteenwoordiger van die Luiperds gekwalifiseer het.

Centurion het ongelukkig in die eerste rondte in ’n weg-wedstryde naelskraaps teen College Rovers van Durban met 22-24 verloor. Die res van die Carltonbeker klubs het egter die eerste rondte oorleef. Naka Bulle het Union Milnerton (WP) met 47-46 geklop; Harlequins het Welkom (Griffons) met 59-29 oorrompel; Northam Rhinos het Bloemfontein Collegians (Cheetas) met 75-7 pakslae gegee en die Wolverines het Witrivier (Pumas) met 47-14 gewen.

Die afgelope naweek in die tweede rondte móés een van die Carltonbeker klubs ongelukkig uitval, aangesien Harlequins en die Wolverines teen mekaar te staan gekom het. Die Blokkiestruie het gewys dat hulle ernstig is om op te maak vir hul mislukte Carltonbeker seisoen, toe hulle die Wolverines in ’n weg-wedstryd op Skeerpoort met 35-14 geklop het.

Naka Bulle het Oos-Rand toe gereis om Springs (Valke) op hul tuisveld aan te vat. Die manne van die Moot het wéér hul karakter gewys toe hulle ’n rustyd agterstand van 10-29 omgekeer het om uiteindelik met 32-29 te wen.

Frans Botha op volle vaart op pad na sy tweede drie teen Springs. Hy het ’n driekuns met drie skitter drieë behaal.
Foto: Elmarie Boshoff

In die Bosveld het die Rhinos van Northam behoorlik met Secunda (Pumas) afgereken. Die eindtelling was 69-8.

Na dese bly daar dus agt spanne in dié uitklop-reeks oor en eerskomende naweek sal die kwarteindrondte wedstryde gespeel word.

Volgens vroeë aanduidings sal Harlequins tuis speel teen die Crusaders van SWD.

Die Northam Rhinos is skynbaar ook gelukkig om ’n derde week agtereenvolgens op hul tuisveld in Setaria te speel. Hul teenstander is die OP-klubkampioen, Progress.

Naka Bulle het ’n harde neut om te kraak, aangesien hulle volgens aaduidings Kaapstad toe moet reis om False Bay, die 2022 WP klubkampioen, op hul tuisveld te gaan pak.

Die vierde kwarteindstryd sal in Johannesburg plaasvind, wanneer Raiders (Lions) en College Rovers (Sharks) mekaar die stryd aansê.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button