Local sportSport

Naka Bulle, Northam Rhinos deur na Gold Cup halfeindrondte

Twee van die Blou Bulle se Carltonbeker klubs het deurgedring na die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi se halfeindrondte en teoreties is dit selfs moontlik dat die eindstryd van hierdie toernooi tussen dieselfde spanne as die Carltonbeker finaliste gespeel kan word.

Daar word gereeld bespiegel – soms selfs gespog – dat die krag van die top klubs in die Blou Bulle se Carltonbeker liga ongeëwenaard is in Suid-Afrika.

Hierdie stelling blyk nie so vergesog te wees as wat sommige sou wou glo nie, nadat drie van die Carltonbeker klubs verlede week deurgedring het om in die kwarteindrondte van die nasionale African Rainbow Capital Gold Cup klubtoernooi te speel.

Die twee top klubs in die Carltonbeker liga, wat enkele weke gelede nog in die eindstryd van hierdie gesogte kompetisie gespeel het, het albei Saterdag hul wedstryde gewen en is dus nou deur na die haleindrondte van die Gold Cup toernooi.

– Die Northam Rhinos het tot dusver ’n gunstige loting in die toernooi gehad en al drie hul eerste wedstryde het op hul tuisveld in Setaria, naby Thabazimbi, plaasgevind.

Die Rhinos het Saterdag nie veel moeite gehad om die OP se kampioenspan, Progress, met 53-14 te klop nie. In die proses het die Bosvelders nege drieë ingeryg en die Oos-Kapenaars is behoorlik voorlangs geroskam.

Eerskomende Saterdag sal Northam se manne vir die eerste keer in die kompetisie weg van die huis moet speel, wanneer hulle die Sharks se kampioenspan, College Rovers, in Durban moet aanvat.

Ruan Grundelingh en sy makkers van Naka Bulle speel eerskomende naweek op hul tuisveld in die halfeindstryd van die Gold Cup toernooi teen SWD se kampioenspan, die Crusaders.

– In teenstelling met die Rhinos, was die span van Naka Bulle die afgelope twee naweke op reis en moes hulle weg van die huis speel. Nadat hulle Springs twee weke gelede in die Oos-Rand geklop het, is die manne van die Moot verder getoets toe hulle die afgelope naweek Kaapstad toe moes reis vir hul wedstryd teen die 2022 WP-kampioenspan, Valsbaai.

Die Pretorianers was van die afskop af die dominerende span in hierdie wedstryd en binne agt minute was die sterk regtervleuel, Brandon Swart in die hoek oor vir die span se eerste punte ná ’n kraglopie deur hom.

Na nog ’n drie was die besoekers 12-0 voor, maar toe het Valsbaai met ’n reuse terugvegpoging begin. Hulle het die pak voorspelers van Naka Bulle veral in die vaste skrums behoorlik opgedreun, maar kon nooit genoeg momentum bou om te gaan druk nie. ’n Enkele strafdoel vir Valsbaai het die rustydtelling op 12-3 in die Pretorianers se guns laat staan.

’n Groot terugslag het Valsbaai na net vyf minute in die tweede helfte getref, toe hul binnesenter weens vuisslanery met ’n rooikaart van die veld gestuur is, wat sou beteken dat hulle vir die res van die wedstryd met een man minder moes klaarkom.

Xavier Human het die telbord vir Naka Bulle aan die rol gehou met sy drie vroeg in die tweede helfte.

Albei spanne het daarna kanse verbrou. Die tuisspan se troospunte het twee minute voor die eindfluitjie gekom, maar dit was té min té laat, met die telling op 19-10 in Naka Bulle se guns.

Hansie Graaf se afskop het ’n halwe meter van die hoekvlag uitgerol. Toe agtsteman Hugo Viljoen boonop die lynstaanbal by die tuisspan steel, was die geleentheid daar vir die Pretorianers om deur ’n paar fases te speel totdat Jason Makhari die gaping kon vind vir hul vierde drie. Eindtelling 24-10.

Ruan Grundelingh en sy makkers speel dus eerskomende naweek op hul tuisveld teen SWD se kampioenspan, die Crusaders, wat Harlequins Saterdag in die ander kwarteindstryd met 54-51 geklop het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button