Local sportSport

Gestremde hengelaars vier weer Erfenisdag saam met Ramcat Fish in Irene

Ramcat Fish se jaarlikse hengelfees vir gestremde hengelaars het nou reeds sinoniem geword met Erfenisdag en dié kleurryke fees is die afgelope naweek weer langs die dam op die terrein van die Irene Country Lodge aangebied.

Ná meer as ’n dekade is Ramcat Fish se jaarlikse hengelfees, wat vanjaar reeds vir die elfde jaar agtereenvolgens by die dam van die Irene Country Lodge aangebied is, nou reeds ’n legendariese instelling vir gestremde hengelaars vanoor die hele Gauteng.

Gerhard Smal, algemene bestuurder en organiseerder van Ramcat Fish, het hierdie organisasie destyds gestig hoofsaaklik om manne wat weens beserings in hul weermagdae tydens die Bosoorlog van die vorige eeu gestremd geraak het, die geleentheid te gee om een dag per jaar langs die viswaters saam te kuier.

Mettertyd het die hengelfees gegroei om alle belangstellende gestremdes te akkommodeer en deesdae is dit nie eksklusief tot manne en vroue in rolstoele beperk nie, maar ander gestremdhede soos mense met ’n verskeidenheid geamputeerde ledemate, dowes, blindes ens. deel ook in die pret van hierdie saamkuier-geleentheid.

Smal en sy helpers is bekend daarvoor dat die gestremde hengelaars op hierdie fees bederf word met heerlike kos en genoeg om te drink.

Vanjaar is die Centurion Akademie se sjef-opleidingsdepartement bygestaan deur leerlinge van die Hoërskool Zwartkop wat betrokke is by die skool se Gasvryheidsbestuur department om te sorg vir die kostafels.

Ontbyt is vroeg reeds deur dié flukse span bedien, waarna daar ook wordbroodjies beskikbaar was vir beide die hengelaars, hul helpers en hul ondersteuners.

Die wors is weer voorsien deur Hendrik en Riané Bruwer van die Redbull Farming Group van Grootvlei, in Mpumalanga. Soos elke vorige jaar was dit die manne van die Round Table Pretoria 126-tak se werk om die wors gaar te kry en hulle het die braaiwerk met ywer en entoesiasme behartig.

Later is ’n aansit-middagete ook weer in die parkeerterrein van die Irene Country Lodge deur dié span bedien.

Soos in die verlede het die hengelaars weer hoofsaaklik babers gevang. Dié katvisse word dan in ’n groot drom vol water gegooi, om later in ander damme en riviere vrygelaat te word, aangesien daar te veel van hulle in die dam by Irene Country Lodge is.

Vanjaar het ’n paar hengelaars seker die regte aas gebruik, aangesien daar vir die eerste keer in jare weer karps ook gevang is. Die grootste karp is uitgetrek deur ’n dowe deelnemer, De Villiers Aveling. Sy vis het ’n hele 4,2kg geweeg.

Nóg ’n dowe deelnemer, Corban Steynberg, wat verbonde is aan die Trans Oranje Skool vir Dowes, het ook ’n stewige karp van 2,4kg gevang.

Die weeg- en laaiwerk van die vis in die tenk is oudergewoonte behartig deur lede van die Suid-Afrikanse Legioen, wat ook al lank met die hengelfees van Ramcat Fish vereenselwig word.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button