Naka Bulle dring deur na Gold Cup eindstryd
Naka Bulle rugbyklub se eerstespan staan eerskomende Saterdag ’n kans om die nasionale Gold Cup klubrugby-trofee by die Carltonbeker in hul trofeekas te voeg, nadat hulle hard moes werk om SWD se kampioene, die Crusaders, die afgelope naweek in die halfeindstryd te klop.
In 2019 is die Naka Bulle rugbyklub se eerstespan in die kwarteindstryd van die Gold Cup nasionale klubtoernooi uitgeskakel, toe hulle teen die Grens se Curriebeker span in die gewaad van die Swallows rugbyklub moes speel, terwyl hulle die slagoffers was van een van die swakste – blatant gekookte – skeidsregterveronings wat ooit op hierdie vlak gesien is.
Nou het Marinus van der Watt se manne die kans om daardie onreg van vier seisoene gelede reg te stel, nadat hulle die Crusades van SWD Saterdag op hul tuisveld in die Moot met 52-33 pak gegee het in die halfeindstryd van vanjaar se Gold Cup toernooi. Sodoende het hulle vir die eindstryd te kwalifiseer.
Weens die tussenkoms van Covid is die toernooi vanjaar vir die eerste keer sedert 2019 hervat.

Foto: Koos Venter
Die eindtelling van Saterdag se wedstryd is effens misleidend, as in ag geneem word dat die telling vier minute voor die eindfluitjie nog 38-33 was en enige van die twee spanne nog die wedstryd kon wen.
Albei spanne was egter teen daardie tyd fisies uit op hul voete, ná 75 minute van ’n wedstryd wat teen ’n baie hoë tempo gespeel is. Die tuisspan moes boonop verlede naweek Kaapstad toe reis en binne 24 uur terugkeer ná ’n baie taai wedstryd teen Valsbaai, terwyl die manne van George ook twee keer in ’n week Gauteng toe moes reis vir die kwart- en halfeindstryde.
Naka Bulle se voorspelers was van die eerste afskop af in beheer van sake en het veral in die vaste skrums die Suid-Kapenaars harde bene laat kou. Ongelukkig het hulle in die lynstane tegnies gesukkel, wat hulle van baie momentum beroof het.

Die manne van die Moot se grootste uitdaging was egter om hul teenstanders in toom te hou as hulle die bal begin rondgooi. Tipies van Wes-Kaapase klubspanne, speel die Crusaders ook ’n opwindende styl waardeur hulle die tempo van die spel aanjaag en met elke moontlike geleentheid kruis en dwars oor die veld die bal die werk laat doen op die aanval.
Teen rustyd het die Crusaders selfs met 21-14 voorgeloop, maar nadat Naka Bulle se eie “bomb squad” opgestuur is, het hul stadige gif voorlangs weer gewerk. Hulle kon al hoe meer strafskoppe afdwing met hul kragtige skrumwerk, wat weer momentum verskaf het.

Foto: Koos Venter
Die laaste tien minute het die Pretorianers weer hul karakter gewys en vasgebyt, terwyl die besoekers eenvoudig te gedaan was om weerstand te bied.
* Naka Bulle speel eerskomende naweek op hul tuisveld in die eindstryd van die toernooi teen die Durban Collegians, nadat laasgemoende die Northam Rhinos in Durban in die ander halfeindstryd met 21-19 getroef het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
