Local sportSport

Naka Bulle se Gold Cup triomf is kersie op koek van skitter-seisoen

Die Naka Bulle van Pretoria het uiteindelik bewys dat daar geen beter “oop” rugbyklub in die land is nie, toe hulle Saterdag as kampioen van die African Rainbow Community Gold Cup klubtoernooi gekroon is.

Die Naka Bulle van Pretoria se Moot is die Gold Cup kampioen en gevolglik geregtig op die titel as Suid-Afrika se beste “oop” rugbyklub.

Met “oop” word bedoel klubs wat nie aan ’n tersiêre onderwys-instansie verbind word nie.

Laat die jaloerses, waningeligtes en suurknolle vanoor die land heen maar mor en persepsies probeer vestig met skinderstories. Soos oom Boy Louw sou sê – “looks at the scoreboard…”

Jare se beplanning, investering, uitbouing en doodgewoon harde werk het in 2023 uiteindelik vrugte gedra en Marinus van der Watt se manne – wat skitterend bestuur word deur Ian Herbst, Thinus Joubert en ander – kon ’n droomseisoen Saterdag afsluit met hul oorwinnig van 56-29 in die nasionale African Rainbow Community Gold Cup klubtoernooi.

Daarmee voeg Naka Bulle dié nasionale titel by hul titel as 2023 kampioen van die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker.

Dit was gladnie ’n maklike pad vir Ruan Grundling en sy makkers om hierdie nuutste prestasie in vyf ononderbroke weke te behaal nie. Hulle moes met twee klubs uit die WP, Union Milnerton (tuis) en Valsbaai (weg); die omgekrapte kampioenspan van die Valke, Springs rugbyklub (weg), en die onvoorspelbare Crusaders van SWD (tuis) afreken om vir die eindstryd te kwalifiseer.

Saterdag moes hulle op hul tuisveld ’n reuse tweedehelfte-aanslag van die baie sterk, semi-professionele, College Rovers uit Durban oorleef om die kroon te dra.

Dit was gou duidelik dat die manne van die Moot se voorspelers die oorhand het in die wedstryd. Hulle het veral in die eerste helfte die Natallers gekarnuffel in die vaste skrums en ook groot bresse geslaan met hul dryfbewegings.

Hierdie oorheersing voorlangs het aan Hansie Graaff op losskakel die nodige ruimte gegee om sy agterlyn behoorlik in te span. Frans Botha se drie na slegs twee minute se spel het juis gekom nadat Graaff sy bedrieglike spoed gebruik het om die lyn te breek, waarna Botha ’n skop van heelagter Danny Mokhoabane kon opvolg om te druk.

Nóg ’n dominante skrum het die tweede drie, dié keer deur senter Martin Austen, moontlik gemaak – met Graaff se goeie hande wat weer ’n rol gespeel het.

Daarna het die voorspeler-krag en dryfspel van die tuisspan gesorg vir ’n drie deur slot Stephan Vermeulen en ’n strafdrie, terwyl Xavier Human se drie kort voor rustyd óók deur oorheersing voorlangs moontlik gemaak is.

Met die rustydtelling op 35-10, het baie ondersteuners van die tuisspan al by die kroegtoonbank begin saamdrom om met die feesvieringe te begin. Hulle is egter gou na hul sitplekke teruggedwing, toe dit duidelik word dat die Durbaniete se verandering in strategie vir hulle begin vrugte afwerp.

Soos die Crusaders van George verlede week het College Rovers besef dat hulle die bal eerstens weg moet hou van Naka Bulle se voorspelers, terwyl hulle die tempo van die spel moet opjaag en met hul agterlyn moet aanval.

Dié strategie het vir 20 minute goed gewerk en ná twee vinnige drieë het College Rovers duidelik nuwe moed geskep.

Goeie leierskap, ervaring en koel koppe op die veld het egter wéér gesorg dat Naka Bulle die fokus herwin en drieë deur Austen en Ian Oosthuizen het die telling buite bereik van die besoekers geplaas.

Ruben Beytel, wat intussen op die veld verskyn het, het vir die 50-tal gesorg met een van sy tipiese opportunistiese pogings, wat soos gewoonlik onder die pale geëindig het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button