Local sportSport

Northam Rhinos uit Blou Bulle se Carltonbeker liga – hier is die feite

Optrede deur die bestuur van klubrugby in Bloubul geledere teen een van die deelnemer-klubs in die Carltonbeker liga dreig nou om ’n skadu te gooi oor die reuse sukses wat die afgelope jare deur harde werk bereik is met rugby op dié vlak onder die Blou Bulle rugby-unie se jurisdiksie.

Tonge klap en sleutelborde ratel sedert Woensdag-oggend, toe dit bekend geword het dat die Northam Rhinos se voorreg om deel te neem aan die Blou Bulle se gesogte Carltonbeker liga, amptelik beëindig is.

Dis veral op sosiale media waar die gegons van die Magaliesberg tot teen die Waterberg gehoor kan word. Die voormalige Bulls en Springbok afrigter, Heyneke Meyer, se bekende gesegde “Perceptions rule the world…” is egter ongelukkig ook heeltemal in die kol as die huidige rumoer in Bloubul klubrugby geledere in perspektief beskou word.

Feit is dat die Northam Rhinos, ten spyte van baie ander woelinge, uiteindelik hul voorreg tot deelname aan die Carltonbeker liga amptelik om net een rede verloor het – hulle het nie die bepalings van die voorwaardes tot deelname nagekom nie.

Daar moet ter aanvang ook die feit gestel word dat die Northam Rhinos nooit permanente Carltonliga status verwerf het nie en dat die grondwet van die unie eers verander sou moes word voordat dít moontlik sou wees. Omdat die Northam Rhinos ’n baie sterk klub ten opsigte van hul senior spanne geword het, is aan hulle spesiale vergunning gegee om aan die Carltonliga deel te neem.

In ’n amptelike skrywe van dr. Eugene Hare, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Rugby-unie, aan die voorsitter van die Northam Rhinos rugbyklub, Flip de Kock, word hierdie saak duidelik uitgespel. Daarin word die Northam Rhinos herinner aan die voorwaarde vir deelname, wat aan hulle gestel is toe hulle enkele jare gelede aansoek gedoen het om aan die Carltonbeker liga deel te neem.

Die amptelike brief van die Blou Bulle Rugby-unie, wat die situasie rondom die Northam Rhinos se deelname aan die Carltonbeker liga verduidelik.

Een van die uitdruklike voorwaardes was dat elke Carltonliga span ten minste vyf spanne vir die liga moet inskryf. Dit sluit in drie senior spanne en twee o.20 spanne. Northam is destyds met hul toelating as deelnemende klub drie seisoene gegun om aan al die voorwaardes te voldoen.

Die uitbouing van die Blou Bulle se o.20 liga is jare gelede deur die huidige president, Willem Strauss, as vereiste gestel om ’n fondament te lê waarop die spel op klubvlak weer met relevansie uitgebou kon word. Hierdie reëling was nie net van kritieke belang om skoolverlaters by klubrugby betrokke te kry nie, maar dit was ook ’n reuse sukses en vandag kan die Blou Bulle spog met ’n baie sterk o.20 liga op klubvlak.

Hierdie feit word bewys, nadat twee van die Bloubul klubs se o.20 spanne (Naka Bulle en Tuks) die halfeindrondte van die nuwe UXi Sports interprovinsiale o.20 toernooi gehaal het, terwyl Tuks dié toernooi twee weke gelde gewen het deur die WP-klub, Hamiltons van Kaapstad, in die eindstryd behoorlik pakslae te gee.

Intussen het die Northam Rhinos, met die rugsteun van die Northam Platinum Holdings myngroep, wat aan spelers werk verskaf, ’n baie sterk eerstespan opgebou. Dié span het beide in 2021 en vanjaar die eindstryd van die Carltonbeker toernooi gehaal, terwyl hulle verlede jaar tot in die halfeindrondte gevorder het. Hulle is egter in al drie gevalle deur Naka Bulle geklop.

Ten spyte van hul sterk eerstespan en die feit dat hulle drie seisoene gehad het om hul o.20 spanne te vestig, kon Northam Rhinos ongelukkig nie dié belangrike voorwaarde in die liga nakom nie. Dít was die enigste amptelike rede waarom die Carlton Forum (’n liggaam wat toesig hou oor sake in die Carltonbeker liga) se aanbeveling Woensdag deur die Blou Bulle se Tshwane Uitvoerende Komitee bekragtig is.

Dr. Hare het aan Rekord gesê dat die ander klub wat tans ook op uitnodiging deel is van die Carltonbeker, die Wolverines van die Skeerpoort omgewing naby Hartbeespoort, aan presies dieselfde voorwaardes moet voldoen. Hulle sal teen 2025 ook vyf spanne, insluitende twee o.20 spanne, in die liga moet hê om steeds deel te kan neem.

Volgens dr. Hare kan daar oor hierdie saak nie uitsonderings gemaak word nie, aangesien ander senior klubs in die Blou Bulle se Presidentsliga tans verhoed word om aansoek te doen vir Carltonbeker status, òf om aan ’n promosie/relegasie stryd teen die span onder aan die Carltonbeker punteleer deel te neem, omdat hulle ook sukkel om aan die voorwaarde van die vyf spanne te voldoen.

Die Northam Rhinos se rugbyklub is gesetel op die myndorp Setaria, naby Thabazimbi. Dié klub het verlede jaar die voormalige afrigter van die Northern Bulls, dr. Phil Pretorius (heel links op die foto), aangestel as Direkteur van rugby, terwyl hy ook hul eerstespan afgerig het.
Foto: Facebook

* Soos genoem, is daar intussen wilde aantygings wat veral op sosiale media rondgeslinger word oor die optrede teen die Northam Rhinos.

Dit is ’n feit dat dié klub ’n reuse bydrae gelewer het om die standaard van die Carltonbeker liga hoog te hou. Volgens dr. Hare is dit jammer dat hulle op hierdie manier hul voorreg om deel van die liga te wees moes verloor, aangesien die krag van hul eerstespan ’n bate vir die liga was.

* Ongelukkig is dit ook ’n feit dat sekere optredes deur die Northam Rhinos en gebeure tydens wedstryde die afgelope paar seisoene ’n mate van antagonisme teenoor hulle vanuit ander klubs in die liga aangevuur het.

Dié klub se ondersteuners, spelers en selfs elmente in hul bestuur is by verskeie geleenthede van baie swak sportmanskap beskuldig. Wilde aantygings teen ander klubs en selfs teen senior lede van die Blou Bulle se skeidsregtersvereniging – wat verder gegaan het as net kritiek oor beslissings op die veld – het ook bygedra om die Northam Rhinos se sop sout te maak.

Dit is bekend dat hierdie onsmaaklike voorvalle bygedra het tot die feit dat Harlequins vanjaar onttrek het van hul laaste ligaverpligting teen die Northam Rhinos.

Twee weke gelede, na afloop van die Gold Cup halfeindstryd waartydens die Northam Rhinos teen die Sharks kampioenspan, College Rovers in Durban verloor het – ná ’n tweedehelfte terugvegpoging van die tuisspan – het hulle hul gasheerspan ook ontstel met hul onsportiewe optrede. Die Rhinos se spelers het hulself volgens getuies aan swak gedrag (waaronder baie swak taalgebruik) teen hul gasheer skuldig gemaak, terwyl hulle die funksie waarheen hulle uitgenooi is, geboikot het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button