Nuwe boksklub in noorde skep geleentheid vir aspirant kampioene
’n Nuwe boksklub in die noorde van Pretoria bied aan voornemende boksers die geleentheid om deur een van die stad se mees ervare en suksesvolste afrigters onder hande geneem te word.
Een van Suid-Afrika se suksesvolste boksafrigters ooit, wat oor baie dekades verskeie provinsiale, nasionale, kontinentale – en ten minste een wêreldkampioen – onder hande geneem het, is spreekwoordelik terug in die kryt.
“Ek het nou lank genoeg stilgesit. Ek moet nou weer iets begin doen om my besig te hou,” het die 71-jarige Charles Backhouse aan Rekord gesê tydens die amptelike bekendstelling van die nuwe Backhouse Boksklub, wat hy saam met vriende in Montana gestig het.
Meer as ’n honderd gaste en belangstellendes het opgedaag by die bekendstellingsgeleentheid, wat terselfdertyd ook ’n reünie vir oud lede van die gewese Bereapark Boksklub was.
Backhouse het ’n paar jaar gelede afgetree van sy “gewone” werk by die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA), terwyl hy ook sy ander “werk” as boksafrigter by die HTS Tuine Boksklub vir eers laat vaar het om sy aftrede te geniet.

Foto: Koos Venter
Deesdae kriewel die boksgogga egter weer in die gemoed van dié man met meer as 60 jaar se ervaring as bokser en boks-afrigter. Hy het op amateurvlak verskeie provinsiale kampioene en Springbokke afgerig en op professionele vlak was hy die mentor van Pretoria se laaste wêreldkampioen, Danie Venter.
Dít is baie goeie nuus vir boksers wat soek na ’n klub waar hulle deur iemand met Backhouse se ervaring en kennis bygestaan kan word. Saam met Backhouse sal twee van sy voormalige studente die afrigting van jong boksers waareneem.
Roedolf Venter (broer van Danie, wat self ook 17 beroepsgevegte met Backhouse in sy hoek op sy kerfstok het) en die talentvolle jong Divan Vermeulen sal saam met Backhouse hul kennis en ervaring oordra.

Foto: Koos Venter
Die nuwe klub se goed ingerigte gimnasium maak ook voorsiening vir vir lede – veral dames – wat nie noodwendig wil boks nie, maar op soek is na ’n tuiste waar hulle behoorlike kondisionerings- en fiksheids-afrigting kan kry.
Backhouse glo dat, behalwe vir die voordele van die fisieke oefening en kondisionering, soos krag en koördinasie, gee boks ook aan jong sportmanne (en meisies) selfvertroue, terwyl selfverdedigingsvaardighede aangeleer word.
Sedert Backhouse die nuwe klub gestig het, het sommig van sy boksers al met groot sukses aan twee toernooie deelgeneem, terwyl hul getalle mooi gegroei het tot sowat 25 lede.
Die nuwe Backhouse Boksklub is gesetel in Besembessie straat 774, Montana. Vir enige navrae kan belangstellendes vir Backhouse skakel by 083-382-3539.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
