Uitsonderlike rolbal prestasie vir oud weermag-offisier
‘n Rolbalspeler van die Wonderboom rolbalklub in Montana het onlangs tydens die klub se jaarlikse kampioenskap geskiedenis gemaak deur die eerste lid te word om vier keer die enkelspel kampioenskap te wen.
Toe Robbie Fox vyftien jaar gelede ná sy aftrede as weermag-offisier deur ’n familielid saamgesleep is na die rolbalklub, het dié nuwe tydverdryf in sy lewe baie vinnig tot ’n passie gegroei.
Hy was nog altyd kompeterend in alles wat hy doen en kort voor lank was Fox ook op die rolbalbaan die man wat die pas aangegee het.
Dié gewese provinsiale pluimbalspeler, wat op sy dag ook op die krieketveld uitgeblink het, het weens sy goeie spel op die rolbalbaan sommer vinnig in Pretoria bekend geword in die geledere van hierdie gewilde sport.
Hy het mettertyd op provinsiale vlak presteer as veteraan op die rolbalbaan en in 2018 was Fox deel van die Gauteng Noord mans veterane span wat die silwer medalje by die inter distrikte toernooi gewen het.
Fox het onlangs geskiedenis gemaak by sy klub, die Wonderboom rolbalklub in Montana. Hy het die mans enkelspel klubkampioenskap vir die vierde keer in vyf jaar gewen. Daarmee het hy die eerste lid van hierdie klub geword om dié prestasie vier keer te behaal.
Hierdie prestasie is geen verrassing nie, aangesien Fox sy klub ook die afgelope vyf jaar gereeld trots gemaak het op provinsiale vlak, nadat hy elke jaar gekies is om Wonderboom op die Gauteng-Noord kampioenskap vir meesters te verteenwoordig. Die afgelope twee jaar het hy telkens die eindrondte van dié kompetisie gehaal en met die silwer medalje teruggekeer huistoe.
Fox is boonop al tweemaal deur die Wonderboon klub as Victor Ludorm aangewys.
Dié kranige rolbalspeler sê dat daar geen beter sportsoort is om te ontspan en boonop blywende vriendskapsbande te smee nie, terwyl die speler ook die kans kry om aktief te wees in die buitelug.
As veteraan en uitblinker op die baan is Fox ook opgewonde oor die aantal jonger spelers wat deesdae begin belangstel om rolbal as sportsoort aan te durf. Daar is die afgelope paar seisoene ’n stewige skole-liga in die Gauteng-Noord omgewing gestig.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
