Local sportSport

Gewilde Springbok haker sterf ná kankerstryd

Een van die groot karakters van Bloubul- en Carltonbeker klubrugby uit die 1970’s en 1980’s is verlede week na ‘n stryd teen kanker oorlede.

Een van die interessantste rugbykarakters in Pretoria en ’n baie geliefde oud Bloubul en Springbok,  Ewoud Malan, is verlede week op 70-jarige ouderdom ná ’n stryd teen kanker oorlede.

Hoewel Malan tussen 1975 en 1981 slegs 15 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal (Blou Bulle) gespeel het, was hy op sy manier tog ’n legende in Pretoria se rugbykringe, veral in klubrugby geledere. Hy het ook die Noord-Transvaal B-span, wat in daardie jare gereeld in aksie was, aangevoer. Daarbenewens was hy ook verskeie keer in aksie vir die Bloues se o.25 span, terwyl hy ook vir die Junior Springbokspan uitgedraf het.

Malan was deel van ’n baie sterk Tukkies span, wat gereeld met tot sewe Springbokke in hul geledere  gespeel het.

Dié besondere sterk haker, wat ook soms op stut vir Tuks en Noord-Transvaal uitgedraf het, is in 1953 in Groblersdal gebore. Hy het by die Hoërskool Ben Viljoen op dié dorp gematrikuleer, waarna hy eers diensplig in die Suid-Afrikaanse Weermag verrig het, voordat hy Pretoria toe is om by Tuks te studeer.

As jong student het Malan gou naam gemaak op die rugbyveld en hy het baie jare lank vir Tuks uitgedraf.

Malan kon waarskynlik baie wedstryde vir enige ander provinsie speel, maar hy was ’n Pretorianer in murg en been, wat sy loopbaan as akademikus en sielkundige by die Universiteit van Pretoria ernstig opgeneem het en eerder daarop gekonsentreer het. Hy het later verder studeer en ’n dokorsgraad in Sport- en Bedryfsielkunde behaal.

Die feit dat hy voor die ouderdom van 30 ophou rugby speel het, is nog ’n bewys dat sy beroep voorang geniet het in sy lewe. Hy het later ook ’n tweede loopbaan as versekeringsmakelaar gehad.

Malan se vermoë en besondere talent as rugbyspeler word bewys deur die feit dat hy in 1980 as Noord-Transvaal se tweedekeuse haker gekies is as Springbok reserwe in die eerste drie toetse teen Bill Beaumont se Britse Leeus. Dié Springbokspan se haker was Willie Kahts, die man wat Malan ook uit die Noord-Transvaal span gehou het.

Toe Kahts egter in die derde toets teen die Britse Leeus in Port Elizabeth beseer is, het Malan sy kans gekry vanaf die plaasvervangerbank. Daarna is hy in die vierde en laaste toets in die beginspan teen die Leeus uitgedraf.

’n Roudiens vir Malan is verlede Vrydag in die Moreleta Extra Gemeente gehou.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button