Local sportSport

Hansie Graaff roep halt na byna 15 jaar se rugby-avonture

Een van die grootste puntemakers in vanjaar se Carltonbeker klubrugby-toernooi en ‘n veteraan wat al reg oor Suid-Afrika en by verskeie klubs in Europa met sy talente gewoeker het, het besluit om halt te roep.

Briljante rugbyspelers het in baie gevalle ’n kunstenaarstemperament. Hulle is gewoonlik individualisties en sukkel om in boksies te pas of binne rigiede lyne te funksioneer.

Hansie Graaff, die man wat Naka Bulle vanjaar in hul skitter seisoen op losskakel verteenwoordig het, pas soos ’n handskoen in hierdie beskrywing en soos baie ander soortgelyke spelers het hy wel ’n opwindende loopbaan gehad, maar hy het waarskynlik nooit werklik sy volle potensiaal verwesenlik nie.

Hy moes ten minste ’n SuperRugby legende gewees het en as ons eerlik moet wees, het swakker losskakels en heelagters as hy al die Groen en Goud gedra…

Hansie Graaff (links) is verlede week deur Naka Bulle aangewys as hul eerstespan Agterspeler van die Jaar. Hier ontvang hy die trofee van die agterspeler afrigter, Morné Human.
Foto: Koos Venter

Getroue rugby entoesiaste het dié 34-jarige veteraan sowat dertien jaar gelede leer ken as ’n voortvarende jong losskakel/heelagter wat dit die moeite werd gemaak het om te gaan kyk na die sukkelende Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) se Varsitybeker wedstryde.

Hy was opwindend en onortodoks en hoewel hy soms sy afrigters se hartritme versteur het met sy waaghalsigheid op die veld, het hy ook toeskouers gelok en dié span tussen 2010 en 2012 gehelp om groter name in dié kompetisie en in die Carltonbeker liga op te dreun.

Hoewel Graaff in sy matriekjaar aan die Hoërskool Wonderboom deur die Blou Bulle se Cravenweek keurders geïgnoreer is, is hy wel ingesluit in die Bulle se o.19 skolespan wat aan die bekende PUKKE-week deelgeneem het.  Dáár het hy gewys wat in hom steek en aan die einde van die week is hy as Speler van die Toernooi aangewys.

Die ervare en berese rugbyspeler, Hansie Graaff, is deesdae in die korporatiewe wêreld in diens van ’n versekeringsmaatskappy by hul hoofkantoor in Centurion.
Foto: Koos Venter

Dié prestasie het aan hom ’n beurs by die Tuks Rugby-akademie besorg. Die volgende jaar is hy egter deur TUT gewerf om daarheen te skuif, spesifiek met die oog op dié universiteit se Varsitybeker veldtog.

Na drie jaar by TUT was dit tyd om sy loopbaan as professionele speler te begin en hy het kort na die Varsitybeker seisoen van 2012 ’n kontrak van twee jaar met die Griffons aangegaan. In dié tydperk was hy ook deel van die Cheetahs se SuperRugby groep, terwyl hy ná sy eerste seisoen by die Noord-Vrystaters deur SA Rugby as Curriebeker B-afdeling se Speler van die Jaar aangewys is.

Vroeg in 2013 het die destydse SA Sewes-afrigter, Paul Treu, hom betrek as deel van sy groter groep.

Daarna kry Graaff ’n aanbod van die Sharks om Durban toe te skuif, maar weens ’n kniebesering speel hy baie min wedstryde vir die Natallers.

Sy volgende skuif was na die OP Kings vir twee seisone, maar Graaff beskou dít as waarskynlik sy grootste fout in sy professionele rugbyloopbaan.

In 2016 teken hy 104 punte in 16 wedstryde aan vir SWD, die vyfde plaaslike provinsiale span vir wie hy uitdraf.

Graaff besluit daarna om nuwe avonture na te jaag en aan die einde van die Curriebeker seisoen van 2016 teken hy ’n tweejaar kontrak by El Salvador, ’n klub in die noorde van Spanje wat speel in die Spaanse top ‘División de Honor’-liga.

Hy word ’n staatmaker en top puntemaker by El Salvador, saam met wie hy in sy eerste seisoen die nasionale liga wen, terwyl hulle tweede eindig in 2017.

Hansie Graaff was vroeg in sy loopbaan ook betrokke by die Springbok sewesrugby span. Hier sit hy (gehurk, voor met die blou stewel) saam met spanmaats.
Foto: Verskaf

In 2018 aanvaar Graaff ’n kontrak by die Franse tweedeliga klub, RC Massy, aan die buitewyke van Parys. Hy skuif egter ’n jaar later na Bayonne in die suidweste van Frankryk en help dié gesogte klub om die tweedeliga te wen en hul status as Top14 liga span te herwin.

Graaff is verlede seisoen ’n verdere verlenging van sy kontrak in Frankryk aangebied, maar hy besluit om persoonlike redes om terug te kom na sy geboorteland. Hier het hy die korporatiewe wêreld betree toe hy ’n pos by ’n versekeringsmaatskappy se hoofkantoor in Centurion aanvaar.

Net toe die rugby-gemeenskap regtig van die opwindende Hansie Graaff begin vergeet, verskyn die ouer, wyser en baie meer ervare weergawe van hom byna uit die bloute vanjaar weer op losskakel in die trui van Naka Bulle.

Hansie Graaff met die Gold Cup, wat hy verlede maand saam met sy Naka Bulle spanmaats verower het.
Foto: Koos Venter

Wel, dit was nie regtig so “uit die bloute” nie.  Wat Graaff eintlik gedoen het, is om sy loopbaan te kom afsluit waar dit alles vir hom begin het… in die Moot, tussen sy eie mense. Hier waar hy as jong seuntjie van Laerskool Mayville reeds junior klubrugby by Naka Bulle gespeel het.

“Ek is klaar. My skouers is voos ná ’n senior rugbyloopbaan meer as twaalf jaar,” het hy aan Rekord gesê.

Wees egter verseker dat daar meer as een klub sal wees wat vroeg in die nuwe jaar gaan probeer om die ervare Hansie Graaff om te praat om nog ’n seisoen of twee uit sy lenige lyf van 1,90m te kry.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button