Bloubul klubrugby geledere geskud deur afrigter se dood
’n Geliefde en gerespekteerde klubrugby afrigter en administrateur, wat ’n reuse rol gespeel het om meer as een Bloubul klub van niks af op te bou tot waar dit Carltonbeker status verwerf het, is die afgelope naweek in ’n voorval van gewapende roof doodgeskiet en daarmee is ’n reuse leemte gelaat in die klubrugby-geledere van Pretoria.
Die klubrugby gemeenskap van Pretoria is sedert die naweek in rou en oorweldig met skok, woede en ongeloof ná die nuus van die dood van Jaco Basson, ’n man wat diep spore getrap het in dié gemeenskap.
Basson (59) het ’n lang verbintenis met klubrugby in Bloubul geledere en sy nalatenskap sal nog vir jare gevoel word.
Hy is die afgelope naweek noodlottig gewond tydens ’n gewapende roof in ’n township gebied noord-wes van Pretoria, nadat hy daarheen is om ondersoek in te stel na ’n moontlike transaksie om ’n voertuig te koop.
Dit het later geblyk dat Basson en die persone saam met hom in ’n lokval gelei is, waarskynlik omdat daar vermoed is dat hy ’n groot hoeveelheid kontant by hom het.
Basson het in Rustenburg grootgeword en aan Hoërskool Grenswag in dié stad gematrikuleer. Hy het aanvanklik betrokke geraak by rugby op klubvlak in die Limpopo provinsie. Voordat hy Pretoria toe verhuis het, was hy voorsitter van die Levubu rugbyklub naby Louis Trichardt.
In Pretoria was Basson die afgelope 14 jaar ’n klubrugby aktivis en administrateur van formaat, wat ’n beduidende rol gespeel het in die ontwikkeling en uitbouing van rugby op dié vlak, nadat dit op ’n stadium ’n groot insinking beleef het.
Hy was sedert 2010 baie nou betrokke by die herlewing van die Oostelikes rugbyklub, wat toé as Oostelikes Eagles bekendgestaan het. As hoofafrigter van hierdie klub het hy groot sukses behaal en binne drie seisoene nadat die klub herstig en van die grond af opgebou is, het Basson se eerstespan hul liga (destyds die Blou Bulle se Reserweliga) gewen. Sodoende is hulle deur die unie gepromoveer en in 2014 het die klub in die top Carltonliga gekompeteer.
Basson is die volgende jaar deur Harlequins nadergetrek, waar hy as afrigter betrokke geraak het. Met die samesmelting van Harlequins en Pretoria Polisie (Bobbies) het Basson besluit om weer ’n klub in die Ooste van Pretoria op die been te bring. Ter wille van tegniese en logistieke redes is dié nuwe klub in samewerking met Baviaanspoort Korrektiewe Dienste gevestig en hoewel hul wedstryde op dié gevangenisterrein gespeel is, het hul oefeninge op ’n skoolterrein in die Ooste van Pretoria plaasgevind.
Die samesmelting van Pretoria Polisie (Bobbies) en Harlequins in 2017 het veroorsaak dat die dormante Pretoria rugbyklub se terrein weer beskikbaar geword het, nadat die Bobbies vir ’n paar seisoene daar gevestig was toe hulle weens kleinlike politiek die gebruik van die Polisiekollege in Pretoria-Wes se sportfasiliteite ontneem is.
Basson het hierin ’n geleentheid gesien om eerstens sy nuwe klub se moelike logistieke situasie te oorkom en tweedens wou hy as deurwinterde klubrugby-man verhoed dat Pretoria as die oudste klub onder Bloubul jurisdiksie tot niet gaan. Hy het met die Pretoria Sportunie onderhandel en daarna die Blou Bulle se toestemming gekry om sy nuwe klub na Pretoria se terrein in Groenkloof te skuif en voortaan weer onder die naam Pretoria Rugbyklub in die Bulle se Presidentsliga te kompeteer.
Onder die leiding van Basson as voorsitter en Rugbydirekteur, asook die klub se president, prof. Neels van Heerden, het Pretoria van krag tot krag gegaan. Hul fasiliteite is uitgebou met ’n gimnasium en ’n eie biokinetika sentrum, terwyl ’n restaurant ook gevestig is.
Binne twee seisoene het al drie hul senior spanne in die eindstyrde van die interprovinsiale Volcano-reeks gespeel. Die derdespan is as kampioen gekroon, terwyl die ander twee net-net in die eindrondte verloor het.
In 2020 is Pretoria gepromoveer om, ná ’n afwesigheid van sowat tien jaar, terug te keer na die Carltonbeker liga en verlede seisoen het dié klub sy permanente Carltonbeker status herwin.
Basson was ’n sakeman met belange in die konstruksiebedryf. Die afgelope paar jaar het hy ook die restaurant en kroeg by die Pretoria rugbyklub oorgeneem en dit as Big J’s Bar&Bistro bedryf. Hy was egter van plan om weer meer aandag aan sy ander sakebelange te gee en het daarom aan die einde van die afgelope seisoen as voorsitter en Rugbydirekteur uitgetree.
Hy was onder sy familie en vriende bekend as ’n sagmoedige reus, maar hy was ook ’n vegter en vasbyter van formaat. Tydens die Covid-krisis het hy ’n lewensbedreigende terugslag beleef en hy het byna sy arm verloor weens die nalatigheid van mediese personeel. Basson het hierdie terugslag egter oorkom en toe rugbyklubs weer deur die regering toegelaat is om hul bedrywighede voort te sit, was hy op sy pos by Pretoria Rugbyklub.
Dié klubrugby legende word oorleef deur sy vrou, vier kinders en vyf kleinkinders.
’n Gedenkdiens vir Jaco Basson word gereël vir Sondag 19 November by om 11:00 by die Riverside Venue naby Roodeplaatdam, Noord-Oos van Pretoria. Besoek asb die Facebook blad Jaco Basson Memorial Service voor Vrydag 17 November om vir die geleentheid te registreer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.