Meesters atlete laat die rekords spat by internasionale byeenkoms in Pretoria
Ten spyte van drukkende hitte het Suid-Afrika se meesters atlete die afgelope naweek gewys waartoe hulle in staat is teen die res van die kontinent se sterre tydens die 14de Afrika Meesters Atletiekkampioenskap op die Pilditch baan.
Die 14de Afrika Meesters Atletiekkampioenskap is die afgelope naweek met groot sukses in die Pilditch stadion in die weste van Pretoria aangebied.
Meesters atletiek is deesdae baie gewild en ’n groeiende sportkode. Atlete vanaf die ouderdom van 35 mag deelneem, terwyl die oudste deelnemers by die naweek se kampioenskappe al aan die verkeerde kant van 80 is.
Dit was wel ’n kontinentale kampioenskap en atlete het uit lande van so ver as Kenia, Kameroen en Tunisië na Suid-Afrika gereis om deel te wees van die aksie. Hierdie kampioenskap was egter terselfdertyd ’n “ope” byeenkoms en daarom kon atlete van ander wêrelddele ook inskryf. Deelnemers uit Duitsland, Estland en selfs enkelinge uit Amerika het kragte gemeet met die room van Afrika se meersters atlete.
Voordat die eerste afsitter-skoot kon klap, was die kampioenskap egter reeds omstrede, nadat ’n groep meesters atlete uit Pretoria en ander dele van Gauteng besluit het om self in te spring om die strate rondom die Pilditch stadion skoon te maak. Die toestand van die strate was – veral weens die sloerende staking van munisipale werkers in die stad – ’n verleentheid, nie net vir die organiseerders nie, maar ook vir plaaslike deelnemers, wat in hul nasionale kleure teen internasonale teenstand moes deelneem.
Met die aanbreek van die kampioenskap was die situasie rondom Pildich nog nie ideaal nie, maar baie beter, nadat die stadsraad se werkers ook betrokke geraak het by die skoonmaak operasie.
Op die baan in die stadion, asook in Soutterstraat suid van die stadion, waar die 10km en 20km stap-items plaasgevind het, is atletiek van top gehalte gesien. Ten spyte van bloedige hitte sommer vroeg elke dag, was daar steeds puik prestasies tydens die byeenkoms. Nie minder nie as veertien (14) byeekomsrekords het in die slag gebly tydens die drie dae van aksie. Twee daarvan is deur Regina Mulatya van Namibië, maar die res van die rekordbrekers was Suid-Afrikaners, terwyl verskeie plaaslike atlete onder die presteerders was.
Een van die groot uitblinkers was Charmaine Barnard, ’n plaaslike ster van Gauteng-Noord en bekende meesters atleet. Sy het drie kampioensksrekords verbeter, naamlik die 100m naelloop, die 80m hekkies item en die gewigstoot vir vroue ouer as 55.
Nóg ’n Pretorianer, die 76-jarige Elsa Meyer, het ook ’n byeenkomsrekord opgestel in die 20000m stap (20km) item vir vroue 75-79. Haar wentyd van 02:21,23 minute was volgens onbevestigte berigte ook ‘n nuwe wêreldrekord. Meyer is ’n voormalige wêreldrekordhouer in dieselfde item vir vroue 70-74.
Meyer het Donderdag ook die 5000m stap vir vroue 75-79 gewen in ’n tyd van 33:27,04 min gewen.
Johan Gouws, ook van Gauteng-Noord, is een van twee mansatlete wat daarin kon slaag om ’n rekord te verbeter. Hy het die hoogspring vir mans (65-69) met ’n hoogte van 1,60 gewen. Dis is presies een sentimeter hoër as die voriger rekord.
Dinah Heymans (55-59), ’n Gauteng-Noord atleet uit Centurion, het ’n nuwe byeenkomsrekord in die hoogspring item opgestel.
Soandri Meyer (35-39) van Pretoria het ’n nuwe rekord opgestel in die paalspring vir vroue.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.










