Local sportSport

Silver Valke gereed vir nuwe seisoen ná logistieke terugslae

Terwyl die Silver Valke in 2023 baie goed op die veld gevaar het, moes hulle terugslae van die veld af verwerk, maar nadat dié hindernisse uit die weg geruim is, sien die bestuur nou uit na selfs groter prestasies as verlede seisoen.

Na ’n paar moeilike post-Covid seisoene het die Silver Valke rugbyklub in 2023 weer hul koppe opgelig en ’n baie goeie seisoen in die Blou Bulle se Presidentsliga beleef.

Beide die Silver Valke se eerste- en tweede spanne het vir die uitspeel wedstryde in dié liga gekwalifiseer, wat ’n aanduiding is van die drastiese verbetering in prestasie.

Dié klub, wat in Silverton geleë is, het van die beste klubfasiliteite in Pretoria met ’n goed toegeruste restaurant en kroeg, asook ’n groot onthaalsaal.

Ongelukkig is sportklubs in die moderne Suid-Afrika nie geïsoleer van die euwels van die samelewing nie. Net soos baie ander klubs het die Silver Valke ook einde 2023 deurgeloop onder misdaad en groot skade gely ten opsigte van kabeldiefstal en vandalisme.

Volgens die voorsitter van die klub, Henry van Wyk, het hulle egter hard gewerk en met die hulp van donateurs is die ligte en elektriese toevoer by die klub herstel. Hierdie toedrag van sake maak dit ook moontlik om die terrein weer op te knap en daar word uitgesien na die voorseisoen oefeninge wat reeds in Januarie sal begin.

Die Silver Valke sal vanjaar deur nuwe afrigters gelei word. André Kyter en Francois Boters is ervare afrigters en die bestuur glo dat hulle die regte manne is om die klub vanjaar self na nog beter prestasies te lei.

Volgens Van Wyk benodig hulle die hulp van enige belangstellendes wat ’n passie het om klubrugby te dien en uit te bou. Dit sluit in administrateurs, afrigters en veral spelers wat bereid is om ’n pad met die Silver Valke te stap en saam te droom om die klub terug te neem na die gloriejare, toe hulle semi-finaliste in die Carltonliga was.

Enige belangstellendes wat so gou moontlik by die Silver Valke wil aansluit en saam wil oefen om gereed te wees vir die seisoen wat voorlê, kan Henry van Wyk (083-466-9016) of Nicky Forbey (082-774-3973) kontak vir meer besonderhede.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button