Local sportSport

Oud bokser droom steeds van sukses in Himalaya gebergtes

’n Bekende vroue-bokser en fiksheids-guru van Pretoria se tweestryd met die pieke van die Himalaya gebergtes neem eersdaags ’n nuwe wending, wanneer sy die bekende Twin Peaks vanaf Nepal sal aandurf om fondse in te samel vir haar gimnasium-programme vir skoliere van die HTS Tuine.

Pretoria se bekende voormalige vroue-bokser, Liz Butler, is nie iemand wat terugstaan vir ’n uitdaging of maklik tou opgee nie.

Trouens, opgee is nie eintlik ’n woord wat in haar woordeskat bestaan nie.

Butler, wat ná haar loopbaan as een van Suid-Afrika se top vroue boksers in die super-weltergewig afdeling ’n gimnasium op die terrein van die Hoër Tegniese Skool Tuine bestuur, het boonop ’n passie om opheffingswerk te doen vir die mense van haar gemeenskap.

Haar gimnasium bied aan leerlinge van HTS Tuine, asook lede van die gemeenskap, die geleentheid om onder professionele omstandighede fikser en sterker te word. So byvoorbeeld kry die atlete, rugbyspelers en ander sportmanne van die skool geleenthede in hierdie gymnasium wat hulle normaalweg nie sou kon bekostig nie, maar wat hulle terselfdertyd die kans gee om beter gekondisioneer te wees vir die sportsoorte wat hulle beoefen.

Butler se ekspedisies om die uitdagings van sommige van die wêreld se hoogste bergpieke aan te durf ter wille van fondsinsamelingsprojekte vir die skool en haar oefenprogramme in die gimnasium, is welbekend. Haar oorwinning van Kilimanjaro, Afrika se hoogste bergpiek, het gevolg ná ’n uitdaging van die leerlinge wat sy in die gimnasium onder hande neem.

Daarna het sy twee keer probeer om Everest, die hoogse piek in die Himalaya gebergtes (en ook die wêreld se hoogste) te oorwin. Die eerste keer het sy tot by die laaste basiskamp gevorder, maar is weens tegniese redes en die weer verhinder om verder te vorder. Daarna het ’n fratsongeluk, waartydens sy sleg geval en haar gesig beseer het, ook ’n ekspedisie kortgeknip.

Soos genoem is Butler egter nie iemand wat maklik moed opgee en haar drome begrawe nie. Sy bly vasbeslote om weer terug te keer na die Himalaya gebergtes. Hierdie keer wil sy die bekende Twin Peaks, wat vanaf Nepal uitgeklim word, aandurf.

Butler en haar ondersteuners het onlangs ’n moordende uitdaagwedloop aangebied om fondse in te samel vir haar volgende ekspedisie. Terwyl die waagmoediges, soos sy self, ’n roete van 40km aangedurf het, kon enige ander deelnemers kies tussen afstande van 5km, 10km 15km of selfs meer as hulle daarvoor kans gesien het.

Na afloop van dié fondsinsamelingswedloop het al die deelnemers ’n reuse nasionale vlag met hul handtekninge en boodskappe versier. Die plan is dat Butler, as sy die Himalaya gebergtes se Twin Peaks oorwin, hierdie vlag dan op die kruin van dié bergpiek sal plant.

Vir verdere navrae of ondersteuning aan Butler, kan sy gekontak word by 060-993-1051.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Back to top button