Local sportSport

Trust vir oud Blou Bulle bied weer gholfdag aan

Die Blou Bulle Rugby Trust (BBRT), wat omsien na oud Bloubul rugbyspelers in nood, se jaarlikse gholfdag vind volgende week in Pretoria plaas, terwyl twee ander funksies ook vir later vanjaar beplan word.

Die lewe van top sportmanne, wat in hul speeldae deur die publiek op die hande gedra en bewonder word, loop in later jare nie almal dieselfde pad nie.

Rugbyspelers kom uit verskillende agtergronde. Soos dit gaan met enige ander groep in die samelewing, is elkeen se lewensloop uniek en verskillend. Juis daarom besef ondersteuners nie altyd dat hul helde van ouds soms ook deur moeilike tye gaan wanneer hulle nie meer op die kruin van hul sportloopbane is nie.

Met hierdie werklikheid in gedagte het ’n groep manne in 1998 bymekaar gekom om ’n trust te stig wat oud Bloubul rugbyspelers in nood kan bystaan met uitgawes soos mediese kostes en selfs begrafnisuitgawes. Die groep het bestaan uit groot rugbylegendes soos Dr. Louis Luyt, Piet Uys en Ruben Kruger (aldrie reeds oorlede), asook Frik du Preez, Oeloff de Meyer, Uli Schmidt en die bekende sakeman Hein Raath, wat self diep spore in rugby- en krieketkringe in Pretoria getrap het.

Later het nog rugbyhelde van weleer soos Adolf Malan, Willie Kahts, Piet Kruger en Andrew Williamson ook op die bestuur van die trust gedien.

Oor die jare het die Trust verskeie oud Bloubul spelers bygestaan met mediese koste wanneer hulle dit self nie kon bekostig nie. Geen speler word in persoon vergoed nie en die trust betaal die mediese diensverskaffer self.

Raath, wat steeds as voorsitter van die Trust dien, het onlangs in ’n verklaring gesê substansiële bedrae is reeds uitbetaal om verskeie oud spelers in nood te help.

Die bekende sakeman Hein Raath, wat diep spore as speler en administrateur in rugby- en krieketkringe in Pretoria getrap het, is ‘n stigterslid en voorsitter van die Die Blou Bulle Rugby Trust (BBRT).
Foto: Verskaf

Hierdie uitbetalings word vertroulik hanteer, terwyl daar ’n proses bestaan waardeur goedkeuring daarvan deur ’n meerderheid van twee derdes van die trustees moet geskied.

“Die vraag oorskry die aanbod toenemend en daar word voortdurend na borge gesoek om die hoofdoelstellings van die BBRT uit te voer,” het Raath verduidelik.

Een van die trust te groot inkomstebronne is hul jaarlikse gholfdag, wat vanjaar weer op Donderdag 22 Mei by die Woodhill Country Club in die ooste van Pretoria sal plaasvind. Die gholfdag sal in die “shotgun – 4 ball alliance (2 scores to count)” formaat aangebied word. Verskeie bekende rugbyspelers en ander sportmanne sal deel wees van hierdie dag.

Later vanjaar sal die trust se 28ste jaarlikse rugbyfees-funksie, waar ondersteuners die geleentheid kry om skouer te skuur met hul helde van ouds, ook op 11 Julie aangebied word.

Dan word daar vanjaar ook ’n nuwe funksie vir 23 Oktober beplan om nie net fondse vir die trust in te samel nie, maar ook die groot legende, Frik du Preez, se 90ste verjaardag te vier.

Navrae/bespreking van voornemende spelers of borge vir die gholfdag van 22 Mei kan Adri Bouwer kontak by selnommer 082-820-2713 of epos adri.bouwer@thebrandclub.net.za of Ronel Walters by selnommer 066-092-9135.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button