Grizzlies eindig onoorwonne ná eerste rondte in Carltonbeker toernooi
Terwyl die Grizzies van Tuine met nóg ’n oorwinning hul eerste rondte verpligtinge in die Castle Carltonbeker liga afgesluit het en nou ’n kans staan om die Lucas Strachan skild te wen, het Tuks met puik hardlooprugby teen Centurion gewys dat hulle ook ernstige aanspraakmakers in vanjaar se toernooi gaan wees.
As daar nog enige twyfel was dat die Grizzlies van Tuine Sportklub as ernstige aanspraakmaker in vanjaar se Castle Carltonbeker toernooi opgeneem moet word, het hulle dit Saterdag op hul tuisveld bewys.
Die manne van die Weste het in ’n opwindende, aanskoulike wedstryd teen Harlequins vasgebyt en met ’n indrukwekkende terugvegpoging ’n rustyd-agterstand uitgewis om die manne van Groenkloof met 43-35 te klop.
Daar word soms gedebatteer oor die min spanne in vanjaar se toernooi en die kwaliteit van die reeks, maar Saterdag se stryd tussen die span bo-aan die punteleer en hul teenstanders onder aan die punteleer het die kwaliteit van die rugby die Carltonbeker toernooi onderstreep.

Foto: Koos Venter
Beide spanne het opgedaag met die doel om positiewe rugby te speel. Harlequins was goed gemotiveer om hul eerste oorwinning te behaal en hulle was ongetwyfeld die beste span op die veld in die eerste skof.
’n Glips deur Quins het aan die tuisspan die geleentheid gebied om die eerste drie van die wedstryd na net 30 sekondes se spel te druk en toe hul gevaarlike buitesenter, Blanche Terblanche, sy derde drie van die seisoen druk nadat hy die verdedigingslinie gebreek het, wou dit lyk of die middag lank gaan raak vir die Blokkiestruie.
Harlequis het egter met inspirerende bydaes van hul kaptein en linkervleuel, Eugene Hare, en hul agtsteman Carling Forwood, van rat verwissel en hul intensiteit en tempo het die tuisspan tot foute gedwing. Vier drieë in die laaste 20 minute van die eerste helfte het die besoekers teen rustyd laat voorloop met 29-14.

Foto: Koos Venter
Wat Mick Helena ookal vir sy manne teen die omdraaislag gesê het, het die nodige uitwerking gehad. Hul fokus was beter, hul verdediging is opgeskerp en danksy die effektiewe skopwerk van hul skakelpaar, Jan Plaatjies en Rodwell Baatjies, kon hulle Quins tot foute dwing. Skitterspel deur manne soos hul agtsteman en kaptein, Hugo Viljoen, flank Adrian Sebebje en die twee senters, Terblanche en Werner Schoeman, het die tuisspan gehelp om vier puik drieë te druk, terwyl Harlequins slegs twee srafdoele by hul telling kon voeg.
– Op die Groenkloof kampus (voorheen NKP) het Tuks hulself ook as ernstige aanspraakmakers bewys deur Centurion met 57-14 af te stof.
Die studente, wat met ’n goeie mengsel van hul jong Varsitybeker span en ouer, meer ervare spelers opgedaag het, het Centurion se nuwe span behoorlk getoets en uiteindelik baie leemtes ontbloot waaraan Jacques Potgieter en sy bestuur dringend sal moet werk.

Foto: Johanna de Vos
Tuks het van die afskop af gewys dat hulle Centurion van hul voete af wil hardloop. Hul agterste driehoek se spoed en vaardigheid is gou as een van hul beste wapens bewys toe linkervleuel, Andile Myeni, oor die doellyn is na ’n agterlynbeweging vanaf ’n vaste skrum.
Daarna het die tuisspan eenvoudig die bal by elke moontlike geleentheid die werk laat doen en Centurion se verdediging behoorlik getoets. Na 25 minute se spel was Tuks se bonuspunt vir vier drieë reeds in die sakkie.

Foto: Johanna de Vos
Centurion het hul eerste drie kort voor rustyd gedruk en Tuks was met 24-7 voor toe die manne gaan water drink het.
Die besoekers het eerste punte aangeteken in die tweede helfte en hoewel hulle vir ’n kwartier lank probeer het om wal te gooi en terug te kom in die wedstryd, was dit daarna weer eenrigting verkeer. Na nóg vyf drieë deur die studente was die vyftigtal op die telbord.
– Die Grizzlies het Saterdag hul vierde wedstryd gespeel en dus hul eerste rondte in vanjaar se toernooi voltooi. Na vier wedstryde, waarvan hulle drie mét bonuspunte gewen het – asook die gelykop-uitslag mét ’n drieë-bonuspunt teen teen Naka Bulle – staan Grizzlies op 18 ligapunte.

Foto: Koos Venter
Die verdedigende kampioen, Naka Bulle, het nog net twee wedstryde afgehandel en moet nog teen Centurion en Tukkies speel. Hulle het vyf punte teen Harlequins en drie teen Grizzlies verdien en staan tans op agt ligapunte. Die druk is dus nou op Naka Bulle om volpunte in albei hul oorblywende ligabepalings in die erste rondte te kry. Indien hulle dit regrky, sal hulle met hul beter positiewe punteverskil na die eerste rondte bo-aan die punteleer eindig en dus kwalifiseer om die Lucas Strachan Skild te wen.
As die manne van die Moot egter teen Centurion of Tuks vasval òf gelykop speel òf slegs in een wedstyrd nie daarin slaag om volpunte met ’n oorwining te verdien nie (dus minder as vier drieë druk), sal Grizzlies geskiedenis maak deur die Lucas Strachan Skild vir die eerste keer in hul bestaan te wen.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.