Local sportSport

Pretoria se gholf-avonturier doen dit wéér

Pretoria se bekende gholf avonturier het verlede week sy indrukwekkende lys van gholfverwante wêreldrekords aangevul met ’n aanslag op nog ’n Guiness wêreldrekord wat ’n oorvloed van fiksheid, durf en uithouvermoë geverg het.

Pretoria se wêreldbekende gholf-avonturier is terug.

Ná ’n paar jaar waarin hy hom meer op sy besigheidsbelange toegespits het, het die Radical Golfer van Pretoria, Heinrich du Preez, verlede week weer ’n aanslag op ’n gholfverwante rekord vir die bekende Guiness Book of Records gemaak.

Du Preez is bekend as ’n man met baie energie en hy staan nooit terug vir ’n uitdaging nie. Sy gholfverwante rekords is legendaries en hy hou tans 44 wêreldrekords in hierdie verband, waarvan 18 deur die Guiness Book of Records erken word.

Daarby is hy en sy vrou, Megan, die dryfkrag agter die ‘Golfing for Teddy’ liefdadigheidsprojek, wat jaarliks kort voor die kersvakansie via ’n reuse gholfdag teddiebere insamel om oor die Kerstyd in hospitale aan siek kinders uit te deel.

Du Preez het onlangs besluit om ’n aanslag op nog ’n amptelike Guiness wêreldrekord te maak. Dié rekord gaan oor die persoon wat die meeste gholfballe binne 24 uur kan slaan en is tot verlede week vir langer as 20 jaar deur ’n Amerikaanse burger gehou. Die kinkel in hierdie poging is dat net balle wat binne ’n spesifieke teiken-area land getel word om die totale aantal houe wettig te maak. Die persoon wat die balle slaan moet dus ook ’n mate van akkuraatheid handhaaf.

Dié energieke gholf-avonturier is bygestaan deur ’n lojale span, wat insluit verteenwoordigers van sy borge, helpers wat die gholfballe vir hom plaas, asook tegniese en logistieke assistente wat die balle wat geslaan word vir amptelike doeleindes monitor en op video vaslê.

Terwyl Heinrich Du Preez in die agtergrond onophoudelik voortgaan om gholfballe na ’n teikengebied te slaan, wys sy drie balplasers – wat mekaar oor die tydperk van 24 uur afgelos het – uit watter posisie hulle balle vir hom op ’n sintetiese bof geplaas het om sy aanslag op sy nuutste Guiness wêreldrekord suksesvol te voltooi. Van links is Jannie de Beer, Tinus Boshoff en Ethan Gubbels.
Foto: Koos Venter

Saam met sy span het Du Preez letterlik kamp opgeslaan by die Centurion Golf Village, waar sy aanslag op die rekord om middernag op 21 Mei begin het.

Dan was daar die bekende sanger William Blackrose, wat homself ook ingerig het om regdeur die 24 uur periode vermaak te verskaf met sy kitaar en sangstem.

“Ek raak nie jonger nie en ek voel dié een aan die lyf,” het Du Preez gebieg toe Rekord die terrein teen laatmiddag ná meer as 15 ure van aksie besoek het, terwyl hy tussendeur nooit ophou om balle te slaan nie.

Op daardie stadium het hy reeds byna 8200 balle in die verpligte area laat land. Die bestaande rekord wat Du Preez gejaag het was 10392 balle in 24 uur, wat beteken het dat hy toe nog meer as 2000 balle van die bof af in die teiken-area moes laat land in ongeveer nege ure.

Kort voor middernag op 22 Mei het ’n oorstelpte, maar uitgeputte Du Preez onder luide toejuiging van sy helpers en borge die laaste bal gelaan om ’n nuwe Guiness wêreldrekord van 10469 balle in 24 uur op te stel.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button