Local sportSport

Naka Bulle klop Tuks en is een stap nader aan Lucas Strachan skild

Naka Bulle het Tuks die afgelope naweek in die Castle Carltonbeker toernooi oorrompel en daarmee hul kans lewend gehou om eerskomende naweek weer die houer van die Lucas Strachan skild te word as hulle daarin kan slaag om halfpad deur die kompetisie bo-aan die punteleer te eindig.

Die verdedigende Castle Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, se 47-31 oorwinning op hul tuisveld oor Tuks het dié span een bonuspunt oorwinning nader gebring aan hul eerste trofee van die seisoen.

Eerskomende naweek sal Naka Bulle se tweestryd met Centurion in die finale ligabepaling van die eerste rondte in die 2025 Carltonbeker kompetisie bepaal of die manne van die Moot hul eerste trofee van die seisoen wen. As hulle daarin slaag om dié wedstryd te wen en boonop ’n bonuspunt verdien deur vier drieë te druk, sal die Lucas Strachan skild weer sy staanplek in die klubhuis in Meyerstraat in die Moot kry.

Die Grizzlies van Tuine het reeds hul eersterondte bepalings afgehandel en is tans bo aan die punteleer met 18 ligapunte. Naka Bulle is ná Saterdag se oorwinning oor Tuks, waartydens hulle agt drieë kon druk, tweede op die punteleer met 13 ligapunte. Indien hulle teen Centurion volpunte verdien, sal hulle dus ook 18 punte op die punteleer hê. Danksy ’n paar groot oorwinnings het die verdedigende kampioen egter ’n baie groter positiewe punteverskil (punte aangeteken en punte afgestaan), wat sal beteken dat hulle bo-aan die punteleer sal eindig en sodoende die wenner van die Lucas Strachan skild sal wees.

Ruan (Bielie) Grundelingh en sy makkers het van die afskop af voorlangs oorheers en dié voordeel goed gebruik om die druk teen die studente te laat opbou. Dit het nie lank geneem vir die gapings om oop te gaan nie en die tuisspan se vaardige agterspelers het hul geleenthede aangegryp om die doellyn op te soek.

Die sterk buitesenter, Martin Austen, was eerste oor die doellyn en kort daarna het JJ Motlhodi ook so gemaak. Die derde drie het gekom van ’n dryfbeweging ná ’n lynstaan naby die doellyn, terwyl die bonuspunt drie – weer gedruk deur Austen – ’n kombinasie van die voorspelers se kragspel en dié senter se vernuf was.

Teen rustyd het die tuisspan reeds met 26-10 voorgeloop en vir die eerste kwartier van die tweede helfte het die oorheersing voortgegaan, met nóg drie drieë wat sou volg.

Tuks het egter veggees getoon en hoewel dit duidelik was dat ’n oorwinning neusie verby was vir hulle met die telling op 47-10, het die studente van rat verwissel en hardnekkig begin aanval.

Die tuisspan se verdediging het begin verslap en Tuks kon daarin slaag om nog drie keer te druk om self ’n bonuspunt te verdien.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button