Naka Bulle klop Centurion in taai stryd, wen Lucas Strachan-skild
Naka Bulle moes hard werk vir ’n oorwinning oor Centurion in die laaste ligabepaling van die Castle Carltonbeker toernooi se eerste rondte, maar uiteindelik was hulle suksesvol en het daardeur verseker dat die Lucas Strachan-skild weer in die Moot ’n tuiste sal kry.
Die verdedigende Castle Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, het Saterdag in Centurion die eerste fase van hul veldtog voltooi om hul titel suksesvol te verdedig deur die Lucas Strachan-skild te wen ná hul oorwinning van 31-28 oor hul eweknieë van die Centurion rugbyklub.
Met hierdie oorwinning, waartydens die manne van die Moot vyf keer die doellyn oorgesteek het, het hulle verseker dat hulle bo-aan die liga se punteleer eindig ná die eerste rondte om sodoende dié gesogte skild vir nog ’n jaar in hul klubhuis te kan vertoon.
Marinus van der Watt se manne het egter harde bene gekou om die oorwinning teen ’n gedetermineerde en goed gebreide tuisspan te beklink.
Centurion het van die afskop af met mag en mening ingeklim en die fokus van hul wedstrydplan om die besoekers voorlangs aan te vat, was in die kol.
Dit was egter Naka Bulle wat eerste oor die doellyn kon kom toe haker Christoff Craill ’n dryfbeweging afgerond het vanaf ’n lynstaan.
Regtervleuel Onye John-Osumko se eerste drie het laat in die eerste helfte gekom, nadat agtsteman Marco van Baalen soos ’n wafferse senter deur ’n gaping geglip het.
Goeie skopwerk deur Centurion se losskakel, Cornel Korff, en heelagter, Ronan McCrimmon, het egter die tuisspan in staat gestel om teen rustyd by te bly op die telbord met die telling op 12-9 in Naka Bulle se guns.
Hoewel Centurion baie vroeg in die tweede helfte toegeslaan het met ’n drie deur een van hul jong opkomende sterre, Christiaan Steyn, het die besoekers daarna die grootste deel van dié skof oorheers met drieë deur John-Osumko, Van Baalen en Franco Botha.
Die ligpunt vir Centurion se ondersteuners is dat hul span karakter gewys het deur aan te hou veg tot die einde om in die laaste drie minute twee keer te druk en ’n belangrike ligapunt te verseker vir die nederlaag met minder as sewe punte.
Jacques Potgieter se Centurion span het rede om positief te wees oor die res van die seisoen. Dié klub – en veral hul eerstespan – is aan die begin van die seisoen deur baie afgeskryf, ná die vertrek van hul jarelange afrigter en verskeie top spelers.
Dinge lyk egter na dese glad nie so sleg nie. Centurion het bewys dat hulle kán kompeteer in die liga. Meer nog, hulle kon Saterdag met ’n bietjie geluk selfs die verdedigende kampioen geklop het.
’n Mens moet ’n pluimpie gee aan die klub se bestuur, wat nie gaan lê het na hul terugslae nie. Trouens, hulle het juis die geleentheid gebruik om aan nuwe jong spelers en ’n entoesiastiese jong afrigter die geleentheid te gee om hulself te bewys, terwyl hulle ook ’n paar ervare ouer manne weer nadergetrek het om die balans in hul span te bring.
Wat jong toekomstige sterre betref, hoef ’n mens nie verder te kyk as die opwindende 19-jarige heelagter, Ronan McCrimmon nie. Hy het sommer gou gewys wat hy kan doen toe hy die tuisspan se rekening geopen het met ’n strafskop van 45 meter en later in die wedstryd het hy die oë laat rek met ’n skepdoel van sowat 55 meter wat hy koel en kalm deur die mikke gejaag het. Daarby was sy algemene spel puik en dis geen oordrywing om te sê dat die klubrugby gemeenskap van Pretoria nog baie van dié jongman gaan hoor nie.
As Centurion kan voortbou op hul spel tot dusver, sal hulle meer talent en getalle lok, wat die klub se krag sal versterk.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.







