Voormalige Adelaars ster en Bloubul skrumskakel, Johan Spies, oorlede
Johan Spies, een van die Moot se groot rugbysterre, wat op die rugbyveld sowel as in die sakewêreld uitgeblink het, is verlede week oorlede.
Een van die legendes van klubrugby in die Moot, wat jare lank ’n ster van die voormalige Adelaars rugbyklub was, is verlede week oorlede.
Johan Spies is op die ouderdom van 75 ná ’n siekbed van byna twee maande oorlede.
Hoewel Spies (nie te verwar met die Noord-Transvaal en Springbok slot wat dieselfde naam gehad het nie), in Welkom in die Noord-Vrystaat gebore is, het hy in die Moot grootgeword en later ook diep spore in die sakewêreld getrap.
Hy het sy laerskooljare aan Laerskool Wonderboon-Suid deurgebring, terwyl hy in 1967 aan Hoërskool Wonderboom as onderhoofseun gematrikuleer het. Hy het vir drie jaar lank as skrumskakel van Wonderboom se eerstespan uitgeblink, terwyl hy die laaste twee jaar daarvan die kaptein was.
Spies was een van die min rugbyspelers wat kon spog dat hy die destydse Noord-Transvaal op Laerskool-, Hoërskool-, o.20- én senior vlak verteenwoordig het.
In 1967 was hy tydens sy tweede Hoërskole Cravenweek ook die kaptein van die Noord-Transvaal skolespan.
Na skool is hy weermag toe, waar hy vir beide Weermag en Noord-Transvaal se o.20 spanne uitgedraf het. Daardie seisoen het hy ook die voorreg gehad om vir die Noord-Transvaal o.20 span te speel in ’n voorwedstryd op Loftus Versfeld voor die Springbokke se eerste toets teen die 1968 Britse Leeus van Tom Kieran – dieselfde toets waartydens Frik du Preez sy beroemde en enigste toetsdrie gedruk het.

Foto: Verskaf
Nadat hy reeds as skoolseun vir die Adelaars klub begin speel het, was daar vir Spies geen ander keuse as om by dié klub aan te sluit aan die einde van sy nasionale diensplig nie.
Hoewel geen amptelike statistiek oor sy klubrugby loopbaan beskikbaar is nie, het Spies die Adelaars klub vir baie jare verteenwoordig. Hy was ook vir ’n paar seisoene kaptein van die eerstespan.
Met Noord-Transvaal wat die Curriebeker toernooi sedert 1968 tot in 1981 oorheers het, was daar baie goeie skrumskakels in die Carltonliga wat vir ’n plek in dié span meegeding het en Spies moes kompeteer met manne soos Dirk de Vos, Poenie Holm, Daan Erasmus, Butch van Wyk, Wynie Strydom en later selfs Tommy du Plessis. Dit is waarskynlik die rede waarom hy in slegs een wedstyd in 1971 in die Ligblou trui van Noord-Transvaal se senior span kon uitdraf.
Na sy speeldae was hy ook in rugby-administrasie as sekretaris van Adelaars betrokke.
As sakeman het hy jare lank ’n sportwinkel in die Moot van Pretoria bedryf, maar later was hy in diens van die Rembrandt-groep, waar hy uiteindelik afgetree het. Hy het sy laaste jare in Montana, noord van die Magaliesberg gewoon.
Spies word oorleef deur sy vrou Estelle en twee seuns, Embra en Melt, skoondogters Chagné en Liesel, asook kleinkinders Eldré, Jolinke, Eckhardt en Amjoné.
’n Roudiens vir dié klubrugby legende het verlede week in die Gereformeerde Kerk Magalieskruin plaasgevind.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
