Jukskei-klub vereer weer uitblinkers na suksesvolle seisoen
Die Sonneblom Jukskeiklub in die Moot van Pretoria het nóg ’n baie suksesvolle seisoen beleef en verskeie van die klub se uitblinkers is tydens hul onlangse prysuitdelingsfunksie vereer.
Jukskei, ’n sport eie aan Suid-Afrika en die Afrikanerkultuur, word steeds op verskeie vlakke en deur spelers van alle ouderdomme geniet.
Lede van die Sonneblom Jukskei-klub, wat in die Moot van Pretoria gesetel is, is ’n goeie voorbeeld van die uiteenlopende geleenthede wat die sport aan lede bied.
Terwyl daar verskeie ernstige spelers onder die klub se lede is, verkies ander weer om die sport op sosiale vlak te speel ter wille van die kameraderie en vriendskapsbande wat gesmee word, terwyl die spelers aktief kan bly en aan ’n buitelug sport deelneem.

Foto: Verskaf
Hoewel daar geen ouderdomsbeperking vir lidmaatskap is nie, is die meeste van die klub se lede afgetrede persone, wat oefening en sosiale verkeer op weeksdae moontlik maak.
Tog is die klub deel van Gauteng-Noord Jukskei se liga strukture, wat aan ernstige spelers die geleentheid bied om provinsiale kleure te verwerf of om die klub te verteenwoordig by provinsiale en nasionale toernooie.
’n Span van Sonneblom Jukskei-klub het juis vanjaar in April weer opgeruk na Kroonstad, Suid-Afrika se Jukskei-hoofstad, waar die jaarlikse Senior Burger Toernooi weer aangebied is.
Dié span het verskeie medaljes huistoe gebring. Hieronder tel goud in die C2 kategorie, silwer in die C1 kategorie, silwer in die dubbelspel kategorie-B en brons in die dubbelspel kategorie-C.

Foto: Verskaf
’n Paar van Sonneblom se spelers is ook gekies om deel te neem aan ’n vertoonwedstryd, terwyl spelers van die klub onder die ontvangers van toekennings getel het.
Daar was selfs tyd vir ’n bietjie pret en nuwe spelers wat aan hul eerste Senior Burger Toernooi deelgeneem het is volgens tradisie ontgroen.
Tydens die klub se onlangse prysuitdelingsfunskie aan die einde van die 2024/25 seisoen is verskeie spelers vereer. Wenners van ligas van die Gauteng-Noord Jukskei-unie het almal sertifikate ontvang en sal ook op dié organisasie se jaarlikse gala-geleentheid medaljes ontvang.

Foto: Verskaf
Verskeie individuele toekennings is aan klublede oorhandig. Een van die klub se strydrosse en voormalige voorsitter, Pieter Naudé, het ’n spesiale toekenning as ambassadeur vir die klub ontvang. Van die ander belangrike toekennings was die merkwaardige 85-jarige Tokkie Viljoen wat as Speler van die Jaar aangewys is en Retha Erasmus wat vereer is as speler wat die beste vordering gemaak het.
Belangstellendes wat graag deel wil word van die Sonneblom Jukskeiklub se aktiwiteite, nie net om die spel te beoefen nie, maar ook om nuwe vriende maak, is baie welkom.
Daar word op Maandae en Woensdae vanaf 08:30 in die oggend by die jukskeibane in Swemmerstraat regoor die Moot Hospitaal geoefen en Woensdae word daar na oefeninge ook sosiaal verkeer.
Kontak gerus die voorsitter Gerrie Robinson by 072-600-9641, Retha Erasmus by 084-276-3546 of Ria Smit by 083-254-0587.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
