Menlopark atleet as Afrika o.18 diskus kampioen gekroon met wêreldbeste afstand
’n 15-jarige atleet van Die Hoërskool Menlopark het die afgelope naweek geskiedenis gemaak toe hy nie net die diskus item by die o.18 en o.20 Afrika atletiekkampioenskap in Nigerië gewen het nie, maar ook ’n wêreld beste afstand vir sy ouderdomsgroep gegooi het.
Josua Gerber, ’n Graad-10 leerling van Die Hoërskool Menlopark, is net 15-jaar oud, maar hy het die afgelope naweek in Nigerië by die o.18 en o.20 Afrika Atletiekkampioenskap ’n prestasie behaal wat kenners regoor die wêreld van hom laat kennis neem het.
Hoewel Gerber in September vanjaar eers 16-jaar oud word, het hy vroeër in die seisoen reeds gekwalifiseer om in die o.18 afdeling aan die kampioenskap deel te neem. Hy het in die MKO Abiola sportkompleks in die stad Abeokuta, Nigerië, met die beste o.18 atlete van Afrika afgereken en die goue medalje gewen met ’n wêreldklas afstand van 64,48m.
Hierdie prestasie is nie net Gerber se persoonlike beste afstand met die 1,5kg diskus nie, maar ook slegs 2,36m kort van die Nieu-Seelander, Connor Bell, se Jeug Olimpiese (o.18) rekord wat hy in 2018 as 17-jarige opgestel het.
Gerber het sy vorige persoonlike beste afstand van 62,09m, wat ’n maand gelede op ’n byeenkoms in Potchefstroom opgestel is, met 2,39m verbeter.

Foto: Verskaf
Dit is ook slegs 40cm kort van die Afrika rekord vir seuns o.18, wat in 2015 deur Werner Visser, ’n oud leerling van Hoërskool Zwartkop in Centurion opgestel is. Die afstand oortref ook Visser se SA skole o.17 rekord, van 63,14m.
Volgens Atletiek Suid-Afrika (ASA) is hierdie prestasie wat Gerber die naweek in Nigerië behaal het ’n nuwe wêreldbeste in sy ouderdomsgroep, aangesien hy amptelik nog ’n o.16 atleet is.
Gerber het vanjaar ’n skitterende seisoen beleef. Hy het in Februarie die Pretoria A-bond rekord vir seuns o.16 verbeter met sy gooi van 60,71m, wat aan hom volpunte (1000) op die Athletics Performance Evaluation (APE) tabel besorg het. By dié byeenkoms, waarby die room van Pretoria se skole-atlete betrokke was, het hy die diskus meer as 8m verder as sy naaste teenstander grond laat vat.
In Maart vanjaar is Gerber as 15-jarige gekroon as nasionale o.18 kampioen met ’n gooi van 59,57m in die Groenpunt stadion in Kaapstad. Hy was by dié byeenkoms ook jonger as die meeste van sy teenstanders.
Gerber se afrigter, Constand van Rooyen, is baie opgewonde oor dié seun se toekoms as diskus atleet.
“Volgens my is Josua ’n atleet wat net eenmaal in ’n generasie sy verskyning op die atletiektoneel maak. Ek is oortuig dat hy nog groot hoogtes gaan bereik en hy is beslis ’n potensiële toekomstige Olimpiese kampioen,” het die trotste Van Rooyen aan Rekord gesê.
Van Rooyen wys ook daarop dat die prestasie wat Gerber die afgelope naweek behaal het hom tussen die top-50 op wêreld atletiek se alle-tye lys plaas ten opsigte van o.18 atlete se afstande met die 1,5kg diskus.
Dié talentvolle seun het reeds nuwe doelwitte vir homself gestel en mik nou om in 2026 te kwalifiseer vir die Jeug Olimpiese Spele in Dakar, Senegal, sowel as die junior wêreldkampioenskap, wat in Augustus volgende jaarin die staat Oregon in Amerika aangebied sal word.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
