Local sportSport

Bloubul legende Chris Geyer oorlede

Chris Geyer, die legendariese heelagter van die destydse Noord-Transvaal span in die 1950’s, wat twee jaar gelede op 90-jarige ouderdom as oudste lewende Bloubul rugbyspeler vereer is, is Woensdag in Pretoria oorlede na ‘n kankerstryd.

Chris Geyer, wat twee jaar gelede nog as die oudste lewende Bloubul rugbyspeler deur die deur die Blou Bulle Rugby-unie vereer is, is Woensdag op die ouderdom van 92 oorlede na ’n stryd teen kanker.

Geyer is reeds in 2003 met prostaatkanker gediagnoseer, maar na behandeling het hy vir meer as 20 jaar normaal voortgegaan met sy lewe. Die simptome het egter onlangs weer opgevlam, waarna sy gesondheid dramaties verswak het.

Dié gewilde rugbylegende het tussen 1953 en 1960 in 30 wedstryde vir die destydse Noord-Transvaal op heelagter uitgedraf. Hy was veral bekend vir sy lang lynskoppe en as dodelike verdediger wat menige potensiële drieë van teenstanders met sy aggressiewe laagvatte verhoed het.

Hoewel hy vir agt seisoene die Noord-Transvaal trui gedra het en gereeld na die Springbok proewe uitgenooi is, het Springbokkleure hom ontwyk. Hy moes meeding met manne soos Basie Vivier, Jack van der Schyff en Lionel Wilson.

Hy het wel vir Noord-Transvaal teen die Briste Leeus van 1955 gespeel. Op verteenwoordigende vlak het hy vir die Barbarians uitgedraf, terwyl hy vir ’n gekombineerde span van Noord-Transvaal en Wes-Transvaal teen die Franse toerspan van 1958 gespeel het.

Chris Geyer (tweede van regs), is twee jaar gelede, kort na sy 90ste verjaardag, deur die Blou Bulle rugby-unie vereer. Hy was op daardie stadium die oudste lewende Blou Bul. Van links is die Bulle se gelukbringer, Bulletjie, die president van die BBRU, Willem Strauss, Geyer en sy vriendin, Deleine Delport.
Foto: simondp@actionimage

Geyer was ’n gebore en getoë Pretorianer, wat rugby reeds op die destydse Laerskool Eloffsdal geleer speel het. Daarna het hy vir Hoërskool Michael Brink (later Hoërskool Hendrik Verwoerd) uitgedraf, maar die liefde vir die spel was so groot dat hy selfs as skoolseun reeds klubrugby vir die destydse span van die Government Printing Works gespeel het.

Na skool is hy eers as skrynwerker opgelei, maar weens beter werksomstandighede met sy rugbyspelery in gedagte, het hy in die staalbedryf betrokke geraak. Ná ’n paar jaar by die destydse Pretoria Metal Industry is hy deur Yskor (later Iscor) in diens geneem, waar hy in 1993 uiteindelik na ’n loopbaan van byna 40 jaar afgetree het.

Hy was ’n neef van die beroemde Bekker-broers, Jaap, Dolf, Martiens en Daan, wat almal ook vir Noord-Transvaal gespeel het, terwyl eersgenoemde drie Springbokke was. Daan was op sy dag ook die SA swaargewig bokskampioen. Geyer was self ’n veelsydige sportman, wat soos sy neef Daan Bekker ook in die bokskryt uitgeblink het.

Op klubvlak het Geyer kort na skool by die destydse Innesdal rugbyklub (later Adelaars) in die Moot aangesluit en uit dié klub is hy vir die eerste keer vir die Ligbloues gekies. Nadat hy by Yskor begin werk het, het hy uiteraard vir dié klub gespeel, wat in daardie jare nog ’n vooraanstaande rugbyklub was.

Dié rugbylegende word oorleef deur twee seuns, twee dogters en sewe kleinkinders.

’n Roudiens sal gehou word om 10:00 op Saterdag 2 Augustus by die NG Kerk in Valhalla.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button