Oud-Affie maak krieketgeskiedenis met sy vuurwarm kolf
’n 18-jarige oud-Affie het verlede week seker gemaak dat die krieketgemeenskap wêreldwyd van hom kennis neem toe hy binne vier dae twee internasionale kolfrekords verbeter het.
Krieketliefhebbers hou daarvan om oor die prestasies en rekords van die ouer garde te gesels, maar deesdae is daar ’n nuwe opkomende geslag spelers wat wys dat die vervoerband wat in die verlede krieketlegendes in Suid-Afrika – en Pretoria – na vore gebring het, nog lank nie tot stilstand geknars het nie.
Terwyl die Titans se 19-jarige sensasie, Lhuan-dre Pretorius, verlede jaar as matriekseun van Cornwall Hill College in Centurion al op senior vlak as vreeslose jong kolwer die rekords laat spat het, het nog ’n jong Pretorianer verlede week seker gemaak dat die krieketwêreld van hom kennis neem.
Jorich van Schalkwyk word eers in November vanjaar 19 en was verlede jaar nog ’n matrikulant in die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) in Pretoria. Dié opkomende jong krieketster is deel van die nasionale o.19 span wat tans deelneem aan ’n driehoekige eendag-krieket reeks tussen Suid-Afrika, Zimbabwe en Bangladesh. Die reeks word aangebied in Harare, Zimbabwe.
Die driehoekige reeks is voorafgegaan deur drie internasionale eendag wedstryde op Willowmoore Park in Benoni, waarby die SA o.19 span en hul eweknieë van Bangladesh betrokke was.

Foto: Zimbabwe Cricket
Nadat die span van Bangladesh die eerste twee wedstryde gewen het, het Van Schalkwyk na vore getree om seker te maak dat die besoekers nie skoonskip maak nie. Hy het as openingskolwer ’n reuse onoorwonne beurt van 164 lopies van 156 balle geslaan om die oorwinning vir die SA o.19 span te verseker.
Hierdie briljante beurt was ook ’n nuwe nasionale rekord as die hoogste individuele telling ooit deur ’n Suid-Afrikaanse o.19 speler op internaionale vlak.
Kort na die reeks in Benoni het die twee spanne na Harare in Zimbabwe vertrek om aan die driehoekige reeks deel te neem. Die drie spanne sal in die uitspeelfase tot 8 Augustus elk drie keer teen die ander twee teenstanders speel, waarna die spanne wat eerste en tweede op die puntleer eindig dan in ’n eindstryd betrokke sal wees op Saterdag 10 Augustus.
🏏 History made! SA U-19 opener Jorich van Schalkwyk blasts 215 vs Zimbabwe — the highest-ever score in a youth ODI innings.#TheCitizenSports
Read more here ⬇️https://t.co/yjUkEMoAi4
— The Citizen News (@TheCitizen_News) July 25, 2025
In se eerste wedstryd van hierdie driehoekige reeks het Suid-Afrika teen Zimbabwe te staan gekom en Van Schalkwyk het gewys dat sy skitterbeurt teen Bangladesh in Benoni geen vloekskoot was nie.
Hy het nie net sy eie rekord van ’n paar dae tevore verbeter nie, maar ook die eerste Suid-Afrikaner geword om ’n dubbel honderdtal in ’n internasionale o.19 krieketwedstryd aan te teken.
Dié voormalige Affie het ’n reuse 215 lopies van 153 balle gemoker en in die proses die Suid-Afrikaanse span gehelp om die reeks met ’n oorwinning af te skop deur hul bure met 278 lopies te klop, nadat Zimbabwe vir slegs 107 lopies uitgeboul is.
Hoewel die Suid-Afrikaners hul tweede wedstryd teen Bangladesh met slegs een lopie verloor het, sal hulle hoop dat Van Schalkwyk se kookwater kolfwerk nog soortgelyke beurte oplewer om silwerware vir die span te waarborg in dié driehoekige reeks.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
