Local sportSport

Willie van Rooyen verdedig sy EFC titel suksesvol

Willie van Rooyen van Pretoria is een stap nader aan sy droom om in die wêreld se grootste Gemengde Gevegskuns arenas in aksie te wees, nadat hy verlede week sy EFC vlieggewig titel vir die eerste keer suksesvol verdedig het.

Pretoria se nuutste Gemengde Gevegskuns kampioen, Willie van Rooyen, het verlede week sy titel as vlieggewig kampioen van die Afrika-gesentreerde Extreme Fighting Championship (EFC) suksesvol teen die uitdager, Anatolie Gafin van Moldawië, verdedig.

Van Rooyen het sy teenstander uit Oos-Europa in die hoofgeveg van die EFC126 toernooi in Johannesburg na twee miniute in die tweede rondte van hul geveg met ’n wurggreep tot oorgawe gedwing.

Willie van Rooyen wurg sy teenstander, Anatolie Gafin, tot oorgawe in hul vlieggewig titelgeveg by EFC126, wat verlede week in Johannesburg plaasgevind het.
Foto: EFC

Met hierdie oorwinning het Van Rooyen bewys dat hy sy vermoëns as gevegskuns atleet op internasionale standaard is. Gafin het in Suid-Afrika aangekom as hoogaangeskrewe vegter wat reeds met sukses in sommige van Europa se top ligas in aksie was. Hy was gegradeer as Europa se tweedebeste Gemengde Gevegskuns atleet in die vlieg-gewig afdeling.

Nadat die twee vegters aanvanklik op hul voete geboks het, het Van Rooyen halfpad deur die eerste rondte die eerste keer daarin geslaag om sy teenstander grond toe te neem. Dit was toe reeds duidelik dat die Pretorianer die sterker atleet is, maar Gafin het daarin geslaag om weer op sy voete te kom.

Daarna het Van Rooyen, wat in gevegskunskringe ook bekend is as “White Lion”, beheer oorgeneem en teen die einde van die rondte weer ’n slag vir Gafin op die grond gekry. Die klok het egter die Moldowiër gered.

Die twee vegters is sommer vroeg in die tweede rondte weer grond toe. Hoewel Gafin die kampioen in ’n greep om die nek beetgekry het, kon hy nie daarmee volhou nie. Van Rooyen het pogings om die wurggreep toe te pas afgewissel met genadelose houe teen Gafin se kop. Uiteindelik het hy ’n behoorlike greep om sy teenstander se nek gekry en die Moldowiër tot oorgawe gedwing.

Aksie uit die EFC vlieggewig titelgeveg tussen Wilie van Rooyen (links) en Anatolie Gafin van Moldawië.
Foto: EFC

Behalwe vir die feit dat die kampioen sy titel-gordel behou het, het hy ook die organiseerders in só ’n mate beïndruk dat hy met ’n prestasiebonus beloon is.

Met hierdie oorwinning het Van Rooyen sy onoorwonne rekord in die professionele geveghok opgestoot na sewe oorwinnigs. Hy is volgens kenners besig om ’n baie indrukwekkende rekord op te bou en as hy hierop kan verbeter sal sy droom van internasionale sukses dalk gouer eerder as later realiseer.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button