Local sportSport

Puik afskop vir Bloubul spanne in Gold Cup toernooi

Al drie die Bloubul klubs het die afgelope naweek na die volgende rondte van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi deurgedring met oorwinnings tydens die eerste naweek van dié gesogte kompetisie.

Die Blou Bulle se drie verteenwoordigers in vanjaar se nasionale Gold Cup klubrugby toernooi het die afgelope naweek skoonskip gemaak met oorwinnings in die eerste rondte van hierdie gesogte reeks.

Hierdie toernooi, wat nasionaal beslis word tussen top klubs wat nie verbonde is aan tersiêre instellings nie, word op ’n uitklop basis beslis en al drie die deelnemende Bloubul klubs het dus deurgedring na die volgende rondte.

Al 14 die provinsiale unies in Suid-Afrika, sowel as die Limpopo Blou Bulle, word deur klubs onder hul jurisdiksie verteenwoordig in hierdie kompetisie.

– Die verdedigende Gold Cup kampioen, Naka Bulle, het op hul tuisveld teen die toernooi se ‘Wildcard’, Safcol United van Grabouw in die Wes-Kaap, te staan gekom. Die tuisspan se pak voorspelers het sommer in die eerste drie minute van die wedstryd reeds die boodskap aan die Bolandse span oorgedra waarom mieliepap hier noord van die Oranjerivier saam met die braaivleis geëet word. Hul krag in die dryfbeweging wat die eerste drie voorafgegaan het, was te veel vir die besoekers om te hanteer.

Teen rustyd was die bonuspunt vir vier drieë reeds in die sakkie vir Naka Bulle, terwyl die besoekers slegs drie punte met ’n strafdoel kon aanteken.

Nadat Naka Bulle kort na rustyd weer gaan druk het, het die manne van Grabouw probeer terugveg en hul eerste drie het halfpad deur die tweede helfte gekom. Die tuisspan het egter weer beheer oorgeneem en na nóg vyf drieë het hulle met ’n telling van 66-8 ’n waarskuwing aan al die uitdagers gerig dat dit ’n groot poging gaan verg om hul titel af te neem.

– ’n Paar kilometer suid van die slagting in die Moot het Harlequins op hul tuisveld in Groenkloof te staan gekom teen die Nelspruit Rugbyklub, een van die verteenwoordigers van die Pumas rugby-unie.

Dit was die besoekers uit die Laeveld wat eerste punte aangeteken het toe hul voorspelers die bal deur ’n paar fases gedra het vanaf ’n lynstaan kort voor die doellyn.

Die tuisspan se eerste drie het ook van ’n vaste faset gekom. ’n Skrum in die rooi gebied en dryfspel deur die voorspelers het die momentum verskaf wat aan Quins se kaptein en skrumskakel, Eugene Hare, die geleentheid gebied het om deur te glip.

Na ’n teleurstellende Carltonbeker seisoen het Harlequins Saterdag op hul tuisveld hul Gold Cup veldtog met ’n knal afgeskop en agt drieë ingeryg teen hul teenstanders van die Pumas, Nelspruit Rugbyklub.
Foto: Verskaf

Nóg vier drieë in die eerste helfte het aan Harlequins ’n voorsprong van 33-7 teen rugtyd gegee en die groot vraag was of die Laevelders daardie telbord-druk sou kon verwerk in die tweede skof.

Ná nog twee drieë vir Quins vroeg na die omdraaislag was die skrif aan die muur vir Nelspruit, maar hulle het egter geweier om te gaan lê en kon met hul koppe omhoog van die veld te stap. Ten spyte van die groot pakslae (64-31) wat hulle gekry het, het hulle daarin geslaag om vier keer in die tweede helfte te druk, wat hul positiewe aanslag bewys.

–  Centurion is die enigste plaaslike klub wat die afgelope naweek moes reis en hulle het Witrivier Rugbyklub in die Laeveld gaan aandurf in hierdie stryd die eerste rondte van die Gold Cup.

Jacques Potgieter se manne het die taaiste stryd van die drie Bloubul klubs gehad en het teen ’n span te staan gekom wat baie dieselfde soort rugby al hulle speel. Die stryd tussen die twee swaar pakke voorspelers was veral ’n hoogtepunt van die kragmeting.

Na ’n kwartier se spel het Witrivier eerste punte aangeteken via ’n drie deur hul skrumskakel, na ’n glips op die verdediging deur Centurion.

Regtervleuel Buffy Nsike se drie vir Centurion sekondes voor rustyd het sake gelyk gemaak en die spanning laat opbou.

’n Strafdoel deur Centurion se skrumskakel en kaptein, Cornel Korff, het hul neuse voor gekry op die telbord en toe buiesenter Siya Tyulu kort daarna oorduik vir hul tweede drie, was die druk op die tuisspan.

Nog ’n strafdoel deur Korff het die punteverskil na 10 punte laat groei.

’n Strafdoel en kort daarna ’n drie vir Witrivier met drie minute speeltyd oor het die spanning weer op breekpunt gebring. Die tuisspan se losskakel het egter die doelskop verbrou en Centurion kon hul voorsprong van 20-18 tot die einde behou vir ’n goeie oorwinning weg van die huis.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button