Local sportSport

Naka Bulle, Harlequins dring deur na kwarteindrondte in Gold Cup klubrugby toernooi

Terwyl Naka Bulle en Harlequins met goeie oorwinnings verseker het dat hulle hul kanse lewend hou om die gesogte Gold Cup trofee in Pretoria te hou, is Centurion ongelukkig ná ’n taai stryd in die Bosveld deur die Northam Rhinos uitgeskakel.

Twee Bloubul-klubs het die afgelope naweek die tweede rondte oorleef van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi.

Terwyl die verdedigende kampioen, Naka Bulle, redelik maklik die kwarteindrondte gehaal het met ’n reuse oorwinning van 88-19 oor Louis Trichardt rugbyklub, moes Harlequins heelwat harder werk om Vereeniging rugbyklub met ’n telling van 34-22 uit te skakel.

Centurion se veldtog het ongelukkig tot ’n einde gekom toe hulle die knie teen verlede jaar se finalis, die Northam Rhinos, met ’n telling van 19-31 moes buig.

– In die Moot was Ruan (Bielie) Grundelingh en sy makkers weer onstuitbaar en dit het hulle nie lank geneem om die doellyn te vind nie. Ná onophoudelike aanvallende spel van die afskop af, was dit die woelige flank, Boela Venter, wat eerste in die hoek kon oorduik met slegs drie minute verstreke.

Vyf minute later het agtsteman Luhan Potgieter afgerond ná ’n dryfbeweging van ’n lynstaan naby die doellyn en nóg agt minute later was die bonuspunt in die sakkie toe Jack Hart oor is vir sy tweede drie in die bestek van twee minute.

Halfpad deur die eerste helfte het die manne van anderkant die Soutpansberg se regtervleuel, Eugene Makhubdu, hul eerste drie gedruk ná ’n oomblik van verlore konsentrasie deur die kampioenspan.

Xavier Human, sterk senter van Naka Bulle, op die aanval teen Louis Trichardt in Saterdag se tweederondte-wedstryd van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi.
Foto: DB Photography

Teen rustyd was die telling 45-14, nadat Louis Trichardt nóg ’n opportunistiese drie kon voeg by hul eerste. Daarteenoor het Naka Bulle reeds sewe keer agter die doellyn gaan kuier.

Nóg ’n blitsdrie het vir die tuisspan gevolg nadat spel hervat is, waarna die manne uit Limpopo se ander vleuel, Junior Mnisi, sy spoed gewys het vir sy span se derde en laaste drie.

Hierna was dit eenrigting verkeer en nóg vyf drieë later het die tuisspan gaan stort met ’n dosyn punte kort van ’n honderdtal op die telbord.

– In Groenkloof het Harlequins op hul tuisveld teen die Valke se klubkampioen, Vereeniging rugbyklub, te staan gekom.

Die tuisspan, uitgevat in hul tradisionele blokkiestruie, het die telbord binne die eerste twee minute aan die rol gesit toe Jeandré Balie ’n losbal opgepik het om deur te nael ná ’n hanteerfout deur die manne uit die Vaaldriehoek.

Vereeniging het egter gewys dat hulle nie Pretoria toe gereis het om sommer só die knie te buig nie. Drie minute later het hulle ná verskeie fases op die aanval die doellyn gevind.

Halfpad deur die eerste skof het Enrique Oranje, linkervleuel van Quins, skitterend gebreek om die senter Dieter Crafford oor te stuur en slegs twee minute later het puik opportunistiese spel deur hul skrumskakel en kaptein, Eugene Hare, gesorg vir hul derde drie.

’n Kragdrie via dryfspel deur die besoekers en ’n strafdoelel elk vir die twee spanne het die rustydtelling op 24-15 in Quins se guns te staan gebring.

Vereeniging het die druk vroeg in die tweede helfte op Quins geplaas met hul derde drie ná ’n vinnige tikskop van hul skrumskakel, Thabo Tau.

Hierna het ’n armdruk-stryd die grootste deel van die tweede skof oorheers, maar Crafford se tweede drie het die oorwinning vir die tuisspan beklink.

Harlequins het nou die groot taak om Northam se Rhinos op hul tuisveld in Setaria in die Bosveld aan te vat in die kwarteindstryd.

– Dit was juis daar in Setaria waar Centurion ’n dapper poging aangewend het teen die Limpopo kampioenspan in hul tweederondte kragmeting.

Die besoekers het hul hoogaangeskrewe teenstanders van die afskop af opgedreun en geen tree vir hulle teruggestaan nie.

Drie strafdoele deur Centurion se skrumskakel en kaptein, Cornel Korff, het die Rhinos onder druk gehad en dit het hulle langer as 20 minute geneem om hul eerste punte aan te teken via ’n drie vanaf ’n lynstaan dryfbeweging.

Kort daarna het hulle dié scanario herhaal, maar Centurion het geantwoord met ’n soortgelyke drie om teen rustyd met 19-14 voor te loop.

Tien minute na die omdraaislag het die tuisspan vir die eerste keer die voortou geneem met nóg ’n drie van ’n lynstaan in die rooi gebied en halfpad deur dié helfte was dit wéér dieselfde taktiek wat die telling op 26-19 te staan gebring het.

Hoewel Centurion in die laaste kwart van die wedstryd lank op die aanval oorheers het, kon hulle weens te veel ongedwonge foute nie punte aanteken nie.  Die tuisspan het in die doodsnikke weer gaan druk om die uitslag op 31-19 in hul guns te verseker.

Northam kan hulself egter gelukkig ag en verskeie faktore kon sake beslis anders laat verloop het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button