Local sportSport

Aartsvyande Naka Bulle en Northam Rhinos pak mekaar in Gold Cup halfeindstryd

Twee klubs onder jurisdiksie van die Blou Bulle Rugby-unie, Naka Bulle van die Moot in Pretoria en die Northam Rhinos van Setaria in die Bosveld pak mekaar eerskomende naweek in die halfeindstryd van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi.

Danksy SA Rugby se gemanipuleerde skedulering van wedstryde in vanjaar se Gold Cup klubrugby toernooi, speel die twee beste klubs in die kompetisie vanjaar teen mekaar in die halfeindstryd en nié in die eindstryd, soos verlede jaar nie.

Dié twee super-klubs, Naka Bulle (Blou Bulle) en die Northam Rhinos (Limpopo Blou Bulle), het die afgelope naweek albei groot oorwinnings in hul onderskeie kwarteindstryde behaal om na eerskomende naweek se halfeindstryd deur te dring.

Weens die Rhinos se beter punteverskil op die toernooi se punteleer sal die halfeindstryd op hul tuisveld in Setaria naby Thabazimbi in die Bosveld gespeel word.

SA Rugby se skedulering vir vanjaar se toernooi is só uitgewerk dat die eindstryd uiteindelik onvermydelik gespeel sal word tussen ’n klub uit die suide en een uit die noorde, nadat die uitspeelfase in twee afsondelike groepe plaasgevind het.

Die ander halfeindstryd sal beslis word tussen College Rovers Rugbyklub van Durban (Sharks) en die Villagers Rugbyklub van Kaapstad (WP).

– Ná al die rugbypolitiek voor die huidige seisoen, wat gelei daartoe dat die twee Northam spanne (die Rhinos van Setaria en die Wolwe van Skeerpoort) nie vanjaar deel was van die Carltonbeker toernooi nie, het ’n gees van groot afwagting verlede week geheers oor die kwarteindstryd tussen Naka Bulle en die Northam Wolwe.

Hiervan het nie veel gekom nie, want die huidige Carltonbeker kampioen en verdedigende Gold Cup kampioen van die Moot het hul teenstanders uit Noordwes uiteindelik met 57-22 oorrompel.

Ná ’n taai begin waarin die twee spanne mekaar soos swaargewig boksers getoets het, was dit die 36-jarige veteraan losskakel van die tuisspan, Hansie Graaff, wat die telbord aan die gang gekry het met ’n strafdoel.

Tien miute later het Graaff ’n reuse aandeel gehad in die eerste drie van die wedstryd, toe hy ’n losbal opgepik het en die spasie geïdintifiseer het om sy regtervleuel, OJ Osunkwo, met ’n lang aangee weg te stuur doellyn toe.

Die tuisspan se geolide pak voorspelers het stadig maar seker die oorhand begin kry en nóg tien minute later het Graaff ná goeie dryfspel van sy agttal gewys hoeveel vaart hy nog in sy bene het toe hy die verdediging met ’n skitterenede breekslag geklop het om sy skakelmaat, Jack Hart, weg te stuur vir die tweede drie.

Graaff het uiteindelik ’n aandeel in byna die helfte van sy span se nege drieë gehad. Naka Bulle het hul rustyd voorsprong van 24-7 vergroot met vyf drieë in die tweede helfte om die vyftigtal op te stapel.

– In Setraia in die Bosveld het ’n soortgelyke scenario afgespeel waar die Norham Rhinos met Pretoria se Harlequins kragte gemeet het in hul kwarteindstryd.

Die Rhinos, wat vanjaar as die Limpopo Blou Bulle se klubkampioen gekroon is, het die drieë ingeryg en hoewel die wedstryd ’n paar minute te vroeg beëindig moes word weens gevaarlike weerlig, was hul oorwinning van 62-21 oortuigend.

Harlequins kan hul koppe hoog hou en hulle het rede om positief te wees oor volgende jaar. Dié klub het heelwat aansien herwin in die Gold Cup toernooi ná ’n rampspoedige Carltonbeker veldtog.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button