Local sportSport

Blou Bulle wen provinsiale Platteland toernooi in die Waterberge

Die Blou Bulle se erns om klubrugby op alle vlakke weer relevant te maak is weerspieël in die sukses van die onlangse OBARO Noordvaal Platteland toernooi, waar klubspelers uit laer ligas ook weer die geleentheid gekry het om verteenwoordigende rugby op provinsiale vlak te speel.

Die Blou Bulle rugby-unie het vanjaar weer die inisiatief geneem om ’n rugbytoernooi te organiseer waartydens spelers uit hul Presidents- en Reserweliga klubs ook die geleentheid kry om verteenwoordigende rugby met die madeliefie op die bors te speel.

Amptelik het dié toernooi bekendgestaan as die OBARO Noordvaal Platteland toernooi en agt spanne wat uit klubrugby geledere van ses verskillende provinsiale rugby-entiteite verkies is, het mekaar die stryd aangesê oor ’n tydperk van vyf dae. Wedstryde het plaasgevind by Hoërskool Nylstroom en by die Phamale Sport Village net buite dié dorp in Limpopo.

Die Blou Bulle se Platteland span, bestaande uit spelers van die unie se Presidents- en Reserweligas, kort voor hul vertrek na die Waterberge, waar hulle aan die Noordvaal Platteland toernooi deelgeneem het en die toernooi boonop gewen het
Foto: Verskaf

Die Blou Bulle rugby-unie (BBRU) se verteenwoordigende spanne is saamgestel is uit spelers uit die Presidents- en Reserweligas, asook ’n span genaamd Dipoo, wat hoofsaaklik gekies is uit klubs in die sogenaamde ‘township’ areas.

Nog twee spanne onder die jurisdiksie van die BBRU, het onder die vaandel van die Limpopo Blou Bulle sub-unie, deelgeneem. Dié streek se klubs is in twee verdeel en verteenwoordigende spanne uit die Limpopo-Noord streek en die Limpopo-Waterberg streek het by die toernooi meegeding.

Spanne uit vier ander rugby-unies noord van die Vaalrivier, naamlik die Lions, Valke, Pumas en Luiperds, was ook almal by die toernooi in aksie.

“Danksy ‘n reeks baanbrekende inisiatiewe wat nuwe lewe in ons voorste klubs geblaas het, maar ook ander klubs buite ons grense geïnspireeer het, is klubrugby weer besig om te groei en relevant te word. Van die terugkeer van die Loftus 200 span en die nasionale Gold Cup toernooi, tot oorgrens-kompetisies en verteenwoordigende wedstryde teen internasionale spanne bou ons momentum met ‘n doel,” het die president van die BBRU, Willem Strauss, voor die OBARO Noordvaal Platteland toernooi gesê.

Volgens Strauss is die aanbieding van dié toernooi ’n bewys dat dieselfde energie ook nou by die unie se  Presidents-; Reserwe-; en Limpopo klubs teenwoordig is.

Die Blou Bulle is by die onlangse Noordvaal Platteland toernooi ook verteenwoordig deur die Dipoo span, wat hoofsaaklik gekies is uit klubs in die sogeanaamde ‘township’ areas rondom Pretoria.
Foto: Verskaf

“Hierdie toernooi is wat my betref meer as net ’n kompetisie. Dis ’n bewys van ons voorneme om ook spelers en afrigters buite die Carltonbeker liga te beloon vir hul aandeel om die spel op klubvlak uit te bou. Dit kan net die standaard van klubrugby nog hoër laat groei in die toekoms,” het Strauss verduidelik.

Na drie dae van aksie het die Blou Bulle se span hul ondersteuners trots gemaak deur te kwalifiseer vir die eindstryd deur die span van die Valke met 28-10 in die halfeindstryd te klop. Hul teenstander in die eindstryd was die Luiperds, wat die Limpopo-Noord span in die ander halfeindstryd met 24-18 geklop het.

Die Bloubul span is uiteindelik as kampioen van die toernooi gekroon, toe hulle die Luiperds na ’n taai eindstryd met 12-8 gewen het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button