Local sportSport

Naka Bulle klop Northam Rhinos in Gold Cup halfeindstryd en moet Kaap toe reis vir eindstryd

Naka Bulle kry eerskomende Saterdag die kans om geskiedenis te maak en ’n derde agtereenvolgende Gold Cup titel te wen wanneer hulle een van Suid-Afrika se oudste rugbyklubs in Kaapstad pak in die eindstryd van dié nasionale klubrugby toernooi.

Die verdedigende Gold Cup kampioen, Naka Bulle, is op pad Kaapstad toe waar hulle eerskomende naweek hul titel op die skouspelagtige Brookside stadion teen die hange van Tafelberg moet gaan verdedig, nadat hulle die afgelope naweek met die Northam Rhinos in die halfeindstryd afgereken het.

Die eindtelling in Saterdag se spannende stryd in Setaria was 28-22 in die guns van die manne van die Moot.

Intussen het die Villiger klub van Kaapstad in die ander halfeindstryd met College Rovers van Durban (Sharks) afgereken deur hulle met 30-21 te klop.

Na vier weke se klipharde uitkloprugby in hierdie nasionale klubtoernooi beteken dit dus dat die eindstryd ’n noord-teen-suid veldslag gaan wees, met twee klubs uit die geledere van die Bulls en die WP wat mekaar gaan pak om die trofee.

Die laaste span uit die Weskaap wat hierdie toernooi kon wen was Valsbaai, wat in 2017 die kampioen was.

Marinus van der Watt se manne kan Saterdag geskiedenis maak en die eerste klub in die moderne era word – sedert rugby in 1996 professioneel geword het en provinsiale spelers nie meer vir hul klubs uitdraf nie – om die nasionale toernooi drie seisoene agtereenvolgens te wen.

Naka Bulle se ramkat-agtsteman, Marco van Baalen (middel), het weer sy hart uitgespeel in Saterdag se Gold Cup halfeindstryd en hy is welverdiend as Man-van-die-Wedstryd aangewys. Links is die klub se voorsitter, Ian Herbst, en regs is Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugby-unie.
Foto: Verskaf

– Daar was groot afwagting voor Saterdag se stryd in die Bosveld tussen Naka Bulle en die Northam Rhinos. Dié twee klubs was in die post-Covid era al in verskeie uitspeelwedstryde in verskillende kompetisies betrokke en elkeen van dié wedstryde het klipharde en spannende rugby opgelewer, waarvan die uitslag tot die laaste sekondes in die weegskaal was.

Saterdag se stryd was geen uitsondering nie. Nadat die manne van die Moot baie goed begin het en in die eerste helfte ’n voorsprong van 21-3 opgebou het, het die tuisspan in die tweede skof teruggeveg om die uitslag uiteindelik weer in die weegskaal te plaas tot die bitter einde.

Dit was egter weer Bielie Grundelingh en sy makkers wat die grondslag vir Naka Bulle se oorwinning voorlangs gelê het. Hul aanslag in die vaste fasette, asook skitter spel by die afbreekpunte, het uiteindelik die verskil tussen wen en verloor beteken.

– Die manne van Setaria het kort voor die aanvang van die toernooi ’n reuse terugslag beleef toe hul afrigter, die voormalige Springbok heelagter, Bevon Fortuin, skielik oorlede is.

Sowat ’n week voor die halfeindstryd het die bestuur van die Rhinos vir Nollis Marais, voormalige afrigter van die Bulls, nadergetrek as konsultant om hulle by te staan met hul voorbereiding. Marais se hand was duidelik te sien in die Rhinos se wedstrydplan en hul aanslag was stukke beter as in vorige wedstryde, waar hulle byvoorbeeld in die kwarteindstryd byna deur Centurion verras is.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button