Box&Dine beloof vuurwerke in bokskryt by Transnet in Koedoespoort
Boks liefhebbers kry eerskomende naweek weer die geleentheid om amateur boks-aksie te ondersteun wanneer ’n Box&Dine toernooi met 10 aksiebelaaide gevegte in Koedoespoort aangebied word.
Die Transnet Engineering Boksgimnasium in Koedoespoort bied eerskomende Saterdag ’n opwindende Box&Dine toernooi aan, waar amateur boksers van dié klub, asook ander plaaslike klubs, weer die geleentheid gaan kry om hul vernuf tussen die toue van ’n bokskryt te vertoon.
Boksliefhebbers en ondersteuners van amateur boks kan beslis nie kla met die hoeveelheid toernooie wat vanjaar in Pretoria aangebied is nie. Sedert die verkiesing van die nuwe bestuur vir die Tshwane Metro Boks-organisasie in Januarie vanjaar was daar ’n merkbare ratverwisseling in die organisering van dié gewilde sport in Pretoria.
Verskeie klubs het gegroei, terwyl die aantal toernooie wat aangebied is, vermeerder het. Hierdie ontwikkeling skep natuurlik vir opkomende jong boksers die geleentheid om in ’n georganiseerde scenario ervaring op te doen in die kryt.

Toeskouers kry dus eerskomende Saterdag by die Transnet Engineering klub se fasiliteit op die hoek van Lynettestraat en Koedoespoortweg in Koedoespoort weer die geleentheid om nie net hierdie top boks-aksie te sien nie, maar aandete vir die gesin sal ook uitgesorteer wees, aangesien ’n driegang maaltyd ingesluit is by hul kaartjies.
Soos dié Box&Dine konsep bekend geword het, sal ondersteuenrs by tafels langs die kryt aansit, vanwaar hulle die aksie kan geniet, terwyl daar tussendeur ook kos bedien sal word. ’n Kontant kroeg sal ook beskikbaar wees.
Gaste kan reeds vanaf 18:00 hul plekke inneem en die aksie sal om 18:30 begin. Vir meer besonderhede of om kaartjies te bespreek, skakel Johan Prinsloo by 083-289-8240.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
