Halfeindrondte kandidate tree na vore in Sibanye-Stillwater Superliga
Na twee rondtes van aksie in die Sibanye-Stillwater Superliga is die Bloubul-klubs se hoop op glorie nou vierkantig op die skouers van die Naka Bulle en Grizzlies, wat albei nog onoorwonne is.
Terwyl Bloubul klubs soos Naka Bulle van die Moot en die Grizzlies van Tuine hul kleim die afgelope naweek afgesteek het vir ’n plek in die halfeindrondte van die Sibanye-Stillwater Superliga, het ’n paar kandidate uit ander provinsies ook hul stem dik gemaak.
Naka Bulle en Grizzlies het albei hul onoorwonne status én hul top posisies op die punteleer in hul onderskeie groepe behou met goeie bonuspunt oorwinnings.
– Naka Bulle het weer onderstreep dat hulle vanjaar ernstig is om daardie een trofee wat hulle verlede jaar ontwyk het, vanjaar in hul trofeekas te laat staan.
Die manne van die Moot het amok gemaak in die Oos-Rand, waar hulle teen een van die Valke se beste klubs, Springs, te staan gekom het.
Dit was sommer gou duidelik dat Springs nie die span van ouds is nie en Naka Bulle het van die afskop af sake oorheers. Teen rustyd het die besoekers al agt keer agter die doellyn gaan kuier om met 47-10 voor te loop.

Foto: Naka Bulle
Menige ander spanne sou seker teen daardie tyd hul voet van die pedaal gehaal het om die lywe te spaar vir die res van die toernooi, maar soos dit ’n kampioenspan betaam het Naka Bulle in die tweede helfte ’n verdere 52 punte aangeteken om die moedige manne van Springs uiteindelik met 99-15 af te slag.
Ten spyte van twee puik oorwinnings tot dusver, sal Naka Bulle nie eerskomende naweek op hul louere kan rus nie. Hul teenstanders in die derde rondte, Wanderers (Leeus) is ook onoorwonne en net die manne van die Moot se beter punteverskil plaas hulle bo die Johannesburgers in dié groep. Saterdag se stryd teen Wanderers is dus effektief ’n kwarteindstryd vir Naka Bulle.
– Die Grizzlies van Tuine se puik oorwinning van 68-17 oor Nigel (Valke) het hulle in ’n gunstige posisie geplaas om deur te dring na die halfeindrondte.
Soos die telling aandui was die manne van Tuine se eenvoudige, maar aantreklike speelstyl weer een te veel vir hul teenstanders uit die Oos-Rand. Die Grizzlies, wat tradisionele rugby speel met ’n pak voorspelers wat oorheers en baie spoed en vaardighede agterlangs, het die drieë ingeryg om Nigel met die kous oor die kop huistoe te stuur.
Mick Helena se manne is egter eerskomende naweek in dieselfde posisie as Naka Bulle, wanneer hulle Rustenburg toe moet reis om teen die Sibanye Stilwater Warriors te speel in hul laaste groepwedstryd. Sibaye is een punt agter Grizzlies op die punteleer, wat beteken die wenner van dié stryd sal deurdring van die halfeindrondte.
– Ongelukkig vir Harlequins, Centurion en TUT is hulle almal ná twee nederlae effektief uitgeskakel in die wedloop na die halfeindrondte van die toernooi.
Harlequins het die verdedigende kampioen, Northam Rhinos, harde bene laat kou in hul wedstryd in Groenkloof, maar die myners uit die Bosveld het uiteindelik met 38-26 gewen. Hou egter vir Harlequins dop in vanjaar se Carltonbeker toernooi. Die Lappiestruie moet nog ’n paar haakplekke in hul wedstrydplan en spanbou proses uitstryk, maar hulle gaan beslis vanjaar beter van hulself rekenskap gee.
Centurion is self nog besig om deur ’n paar groeipyne te werk, maar hulle behoort ook beter te raak later in die seisoen. Saterdag is hulle op hul tuisveld geklop (10-22) deur die Sibanye Stilwater Warriors.
Beide Harlequins (weg teen TUT) en Centurion (weg teen Nigel) sal eerskomende naweek hul veldtog met oorwinnings wil afsluit om die houtlepel in hul onderskeie groepe vry te spring.
– TUT se wedstryd teen Vereeniging het Saterdag skaars een helfte geduur voordat dit weens weerlig gestaak moes word, maar die oorwinning is aan die manne van die Vaaldriehoek toegeken, wat op daardie stadium met 26-3 voorgeloop het.
– In die Skild afdeling van die Sibanye-Stillwater Superliga het dit die afgelope naweek minder goed gegaan met die Bloubul klubs.
Nie een van die plaaslike klubs uit Pretoria kon in hierdie tweede rondte ’n oorwinning behaal nie. Dipoo se wedstryd teen Nylstroom is weens gure weer en weerlig gekanseller, wat beteken dat hulle ten minste nie verloor het nie. Atteridgeville het met 10-52 teen Loskop (Pumas) verloor; die Knights het ’n taai wedstryd teen Letaba (Limpopo Blou Bulle) met 22-29 verloor; Noordelikes het met 12-46 hul rieme styf geloop teen Potgietersrus; die Oryx span het met 0-31 pak gekry teen Mogol van Ellisras en die Pretoria Rugbyklub het met 33-38 teen die Siyanda klub van Limpopo verloor.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.




