Local sportSport

Nóg ’n groot telling vir Naka Bulle op pad na halfeindstryd van Sibanye-Stillwater Superliga

Alle aanduidings is dat die twee top rugbyklubs, Naka Bulle en die Northam Rhinos, mekaar vanjaar weer in die eindstryd van die Sibanye-Stillwater Superliga gaan raakloop, maar hulle het albei eerskomende naweek eers ongemaklike hekkies om te oorkom in die halfeindstryde van dié toernooi.

Dis Naka Bulle teen die Sibanye-Stillwater Warriors en Northam Rhinos teen Brakpan Rugbyklub.

Só lyk eerskomende naweek se halfeindrondte bepalings vir die interprovinsiale Sibanye-Stillwater Superliga, nadat die groepwedstryde die afgelope naweek afgehandel is.

– Nóg ’n drieëfees en nóg ’n groot telling. Dít was die verhaal op die telbord van Naka Bulle se oorwinning oor die Wanderers, wat uit Johannesburg gereis het om Bielie Grundelingh en sy makkers in die Moot te kom aanvat.

Nadat die wedstryd aanvanklik laat afgekop het weens ’n donderstorm in die Moot, kon die spelers later op ’n nat veld opdraf vir die tweestryd.

Dit was egter die tuisspan wat nie op hulle laat wag het nie. Na slegs agt minute se spel het skrumskakel, Etienne Storm, oorgeduik vir sy span se eerste drie.

Daarna het Naka Bulle die krane oopgedraai en met ’n perfekte kombinaise van kragspel voorlangs en hardlooprugby agterlangs, het hulle die Johannesburgers oorrompel.

Wanderers is uiteindelik huistoe sonder om ’n enkele punt aan te teken met die eindtelling wat op 68-0 te staan gekom het

– Die Grizzlies van Tuine het hul kanse verspeel om vir die halfeindrondte te kwalifiseer, toe hulle met 20-24 teen die Sibanye-Stillwater Warriors vasgeval het in hul laaste ligabepaling.

Mick Helena se manne moes Rustenburg toe reis vir die wedstryd. Soos die telling aandui, was dit ’n taai en spannende stryd, wat enige kant toe kon swaai.

Uiteindelik het die tuisspan hul plek in Saterdag se halfeindstryd teen Naka Bulle bespreek met hul oorwinning. Hulle sal egter met ’n groot poging vorendag moet kom om die nasionale klubkampioen op hul tuisveld in die Moot te klop.

– Centurion het daarin geslaag op die toernooi op ’n wen noot af te sluit toe hulle Nigel Rugbyklub in ’n weg-wedstryd met 38-26 geklop het.

Hierdie oorwinning sal Jacques Potgieter se manne heelwat selfvertroue gee vir die res van die seisoen en veral vir hul veldtog in vanjaar se Carltonbeker toernooi.

– Die wedstryd tussen Harequins en TUT, wat op die TUT-kampus in die weste van Pretoria gespeel moes word, is afgestel weens swaar weer en weerlig.

Hierdie wedstryd sou in elk geval net van akademiese belang gewees het, aangesien albei spanne reeds voor die afskop uit die wedloop om ’n plek in die halfeindrondte van die toernooi was.

– Hoewel Brakpan vanjaar ’n gevaarlike span het, sal hulle ’n paar hase uit die hoed moet trek om eerskomende naweek die verdedigende kampioen in die Sibanye-Stillwater Superliga, Northam Rhinos, te verras wanneer die twee klubs in die halfeindstryd teen mekaar te staan kom.

Die Bosvelders het die Vereeniging Rugbyklub in hul laaste ligabepaling met 50-28 afgeslag.

Brakpan beleef self ’n indrukwekkende seisoen tot dusver en het hul ligabepalings afgesluit met ’n oorwinning van 76-12 teen Secunda. Die Oos-Randers moet nou eerskomende Saterdag Setaria toe ry om Northam Rhinos op hul tuisveld te pak.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button