Local sportSport

Naka Bulle en Northam Rhinos ontmoet weer in Sibanye-Stillwater Superliga eindstryd

Die eindstryd van die Sibanye-Stillwater Superliga, wat op 20 Maart as voorwedstryd vir die VRK-kragmeting tussen die Bulls en Cardiff op Loftus Versfeld gespeel sal word, sal ’n herhaling wees van verlede jaar se skouspel in dié toernooi tussen waarskynlik Suid-Afrika se twee beste rugbyklubs, Naka Bulle en die Northam Rhinos.

Daar was geen verrassings toe die Sibanye-Stillwater Superliga se halfeindstryde die afgelope naweek afgehandel is nie.

Soos algemeen verwag, sal die eindstryd van dié toernooi op 20 Maart vanjaar wéér beslis word tussen Naka Bulle van die Moot, die huidige Carltonbeker- en nasionale Gold Cup kampioen en die Northam Rhinos, die verdedigende kampioen in hierdie toernooi.

– Hoewel die Sibanye-Stillwater Warriors vanjaar nuwelinge in die toernooi was, het dié klub uit Rustenburg meer as hul deel gedoen om van Saterdag se halfeindstryd ’n skouspel te maak. Hulle het beslis Pretoria toe gereis met die doel om behoorlike rekenskap van hulself te gee en positiewe rugby te speel.

Aan die ander kant sal selfs die grootste Naka Bulle ondersteuner moet erken dat die tuisspan Saterdag nie op hul heel beste was nie. Die Naka-enjin het nie behoorlik op al sy silinders gevuur nie, maar tog het hulle daarin geslaag om agt keer agter die doelyn te kuier en maklik met 56-17 te wen.

Die Warriors uit Noordwes het veral in die eerste helfte daarin geslaag om die tuisspan tot ’n mate in toom te hou en Naka Bulle moes grootliks terugval op hul sterkpunt, deur hul voorspelers die meeste van die werk te laat doen in die eerste uur van die wedstryd. Dít het hulle behoorlik gedoen, veral in die vaste skrums, waar die besoekers voos geskrum is.

Ná vyf drieë (ingesluit ’n strafdrie) wat van dryfspel ná lynstane gekom het, kon die agterspelers laat in die wedstryd ook hul deel doen.

Hoewel die Sibanye-Stillwater Warriors self drie keer gedruk het, moes hulle egter meestal verdedig teen die tuisspan se aanslag.   

Regdeur die toernooi tot dusver was die manne van die Moot eenvoudig sterker, vaardiger en fikser as hul teenstanders. Soms gebeur dit – soos Saterdag teen die Sibanye-Stillwater Warriors – dat die teenstanders in die eerste helfte alles gee en dat die telling dan stadig aangroei. Maar as die uitdagers se tenks spreekwoordelik leeg raak in daardie laaste halfuur, bly die telbord operateur besig soos die drieë ingeryg word.

– Die Bosvelders het ook op ’n drafstap deur die liga-fase van die toernooi gevorder en hulle sal beslis gereed wees om hul titel teen hul ou aartsvyand te verdedig.

Hulle het ’n sterk span van Brakpan Saterdag met 61-14 geklop, nadat die Oosranders ook voorlangs eenvoudig nie opgewasse was nie en dus nooit genoeg kwaliteit balbesit kon kry om behoorlik te kompeteer nie.

As die geskiedenis tussen Naka Bulle en die Northam Rhinos in ag geneem word, sal dit op 20 Maart op Loftus Versfeld egter heelwat moeiliker gaan vir Bielie Grundelingh en sy manne om hul teenstanders tot oorgawe te dwing. Daarom behoort dié eindstryd ’n waardige skouspel te wees vir ’n interprovinsiale klubtoernooi met die status van die Sibanye-Stillwater Superliga.

Die Rhinos van Setaria was nog altyd ’n span wat tot die bitter einde kan veg. Onder hul nuwe afrigter, Nollis Marais, sal niks verander nie. Trouens, die intensiteit sal waarskynlik groter wees, want Marais se spanne is bekend daarvoor dat hulle nooit gaan lê nie. 

Do you have more information about the story?

Please send us an email to bennittb@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button