Volop aksie by eerste amateur bokstoernooi van die jaar
Met die Gauteng Boksorganisasie se onlangse eerste ontwikkelingstoernooi vir amateur boksers in 2026 is groot verwagtinge geskep dat boksliefhebbers kan uitsien na ’n jaar van baie aksie in die bokskryt.
Die Gauteng Boksorganisasie (GABO) se eerste ontwikkelingstoernooi vir amateur boksers, wat onlangs in samewerking met die Tshwane Metro Boxing Organisation in Pretoria aangebied is, het gewys dat boksentoesiaste kan uitsien na ’n jaar van opwinding en baie aksie.
Klubs vanoor die hele Gauteng, asook ’n klub uit Noordwes, het opgeruk na Tuine Tiere boksklub se fasiliteit in Suiderberg in die weste van Pretoria om deel te wees van die 14 gevegte by die toernooi.
Altesaam agt klubs het boksers ingeskryf vir die aksie. Hulle is Tuine Tiere Boksklub, ShapeUp Boxing Club van Pretoria-Noord, Kemptonpark Boksklub, Brakpan Boksklub, Rustenburg Boksklub (Noordwes), Transmnet Engineering Boxing Club van Koedoespoort, Bert Collins Boxing Club van Springs en die Mamelodi Peoples Boxing Academy.
Die Tuine Tiere Boksklub se fasiliteit het gebars van energie toe die eerste klok lui om hierdie GABO “Open Style” ontwikkelingstoernooi af te skop. Dit was sommer gou duidelik dat hierdie nie net ’n sportbyeenkoms nie, maar ’n viering van bokstalent en durf, waarin die gemeenskap langs die kryt kon deel.

Foto: Verskaf
Met 14 intense gevegte het die toernooi nie net heelwat aksie gebied nie, maar liefhebeers van die sport kon hul verlustig aan die vaardigheid en variëteite in styl wat te sien was.
Ten spyte van die baie debutante wat hul eerste treë in die kryt gegee het, was dit duidelik dat die standaard van afrigting by die deelnemende klubs hoog is. Dan was daar die opkomende sterre wat met selfvertroue en tegniese vernuf die toeskouers op hul voete gehad het. Elke rondte het die gebrul van die skare harder gemaak en elke hou het beklemtoon dat hierdie jong atlete honger is om hul merk te maak in dié uitdagende sport.
Wat hierdie toernooi besonders maak, is die geleentheid wat dit bied vir nuwe gesigte om na vore te kom en raakgesien te word. Jong boksers het nie net ervaring opgedoen nie, maar ook die selfvertroue om groter uitdagings aan te pak.
Met die byna elektriese atmosfeer wat by so ’n toernooi heers, kry die deelnemers die geleentheid om gewoond te raak aan die kollig in die kryt.
Die toernooi was ’n kragtige afskop vir 2026 en het ’n baie goeie fondament gelê om ’n jaar van hoogtepunte in die amateur bokskryt te kan verwag.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
