Centurion klop Naka Bulle in die Moot, neem voortou op Carltonbeker punteleer
Die uitslae van die afgelope naweek se Sanlam Carltonbeker wedstryde het weer beklemtoon dat daar geen oorheersende gunsteling is om op 5 September vanjaar as kampioen in dié klubrugby toernooi gekroon te word nie.
As daar nog enige twyfel was dat Jacques Potgieter se Centurion span vanjaar ernstig is om hul hande teen 5 September op die Sanlam Carltonbeker te kry, het hulle dit Saterdag in die Moot op Naka Bulle se tuisveld onderstreep.
Albert Bakker en sy makkers het iets reggekry wat meer as ’n dekade laas deur enige Centurion span vermag is – om die verdedigende Sanlam Carltonbeker kampioen, Naka Bulle, tweemaal in een seisoen te klop.
Terselfdertyd het Gary Botha se Harequins hul plek in die halfeindstryd van die toernooi bespreek deur verlede jaar se finalis, Grizzlies, op hul tuisveld in Tuine te klop.
– Toe Centurion vroeg in die seisoen op hul tuisveld met Naka Bulle afgereken het, is dit as ’n verrassing beskou. Hulle het egter op dié oorwinning voortgebou en was ’n paar weke later ongelukkig om nie vanjaar die eerste keer ooit die Lucas Strachan-skild te wen deur bo aan die punteleer te eindig ná die eerste rondte van die toernooi nie.
Saterdag het Potgieter se manne egter wel na die eeste plek op die punteleer gevorder met hul oorwinning van 34-31 oor Naka Bulle tydens ’n klipharde en spannende stryd wat eers in die laaste minuut beslis is.
Die wedstryd is hoofsaaklik deur die stryd tussen die twee swaar pakke voorspelers oorheers en drieë vanaf dryfspel voorlangs het die telbord aan die gang gehou tot diep in die tweede helfte, toe James Verity-Amm die eerste agterspeler was wat die doellyn kon haal. Dit was ook Naka Bulle se bonuspunt drie.
Hoewel die tuisspan teen rustyd met 12-10 voorgeloop het en dit vroeg in die tweede helfte wou lyk of hulle beheer oor die aksie neem, wou die manne uit die suide eenvoudig nie besgee nie.

Tristan Myburgh/Narrative Studios

Foto: Tristan Myburgh/Narrative Studios


Foto: Tristan Myburgh/Narrative Studios

Foto: Tristan Myburgh/Narrative Studios
Centurion se bonuspunt drie, gedruk laat in die tweede helfte deur hul woelige agtsteman, Dean Malherbe, ná ’n puik teenaanval van die gevaarlike heelagter, Waldo Koeleman, het die spaning in die laaste tien minute laat opbou. Toe Koeleman kort daarna self gaan druk ná ’n lopie van meer as 50 meter, het die besoekers die voortou geneem op die telbord en skielik was Naka Bulle onder druk teen ’n span wat met nuwe begeestering gespeel het.
Die verdedigende kampioen het koelkop gebly en met ’n aanvallende beweging uit hul eie kwartgebied kon hulle die spel verplaas tot kort voor die doellyn, waarna ’n dryfbeweging van ’n lynstaan gebruik is vir die plaasvervanger haker, Frans Botha, se drie.
Naka Bulle se ondersteuners was gereed om die vreugdevure aan te steek, maar die toeter het nog nie geblaas nie en daar was tyd om weer af te skop. Centurion het besit verkry vanaf ’n lynstaan, nadat die tuisspan die bal ná die afskop uitgeskop het. Hulle kon daarin slaag om die spel deur nege fases lewend te hou, voordat skrumskakel Corné Boland om ’n losskrum geglip het om Albert Kapenda in spasie in besit te stel vir die wendrie.
– In Tuine het nóg ’n titansiese stryd geheers, met Harlequis wat uiteindelik die Grizzlies se laaste kans op ’n plek in die halfeindrondte met ’n oorwinning van 38-30 beëindig het.
Die tuisspan het begeesterd begin en met knaende aanvallende spel aanvanklk Harlequins se verdediging getoets. Die besoekers het nie net hierdie toets geslaag nie, maar ook die inisiatief oogeneem toe heelagter Jeandré Balie oor is vir die eerste drie van die wedstryd.

Foto: Jorina Raath

Foto: Jorina Raath





Foto: Jorina Raath
’n Strafdoel deur Rodwell Baadjies en ’n drie deur heelagter, PJ Bezuidenhout, het die Grizzlies kortstondig laat voorloop, voordat De Wet Lottering se drie gesorg het dat Harlequins teen rustyd die skaal met 12-10 in hul guns geswaai het.
In die tweede helfte het hierdie wedstryd vlamgevat met albei spanne wat die tempo opgejaag en aanvallende rugby gespeel het. Die Grizzlies het alles in die stryd gewerp, maar ongelukkig was hul verdediging nie op dieselfde standaard as hul aanvallende spel nie. Terwyl die tuisspan drie keer kon gaan druk in die tweede skof om hul bonupunt te verdien, het die Blokkiestruie nog vier keer die doellyn gehaal om die oorwinning te beklink.
– Hierdie uitslae beteken ook dat die vier kandidate vir die halfeindstryd nou reeds bepaal is, aangesien die Grizzlies net twee ligawedstryde oor het en nie meer verby Harlequins op die punteleer kan skuif nie. Die detail sal nog in die volgende drie weke na aanleiding van die finale puntestand bepaal word, maar Centurion, Tuks, Naka Bulle en Harlequins is reeds verseker van hul plekke in die twee halfeindstryde.
– Die Grizzlies sal waarskynlik nou hergroepeer en alles in die stryd werp om hul seisoen te herdefinieer in die komende nasionale Gold Cup toernooi, waar hulle een van die Bloubul spanne is wat die unie se eer moet verdedig teen die res van Suid-Afrika se klubrugby kragte.
Deelname aan die Gold Cup toernooi word bepaal deur die prestasie van Carltonbeker spanne in die vorige seisoen. Die Grizzlies het verlede jaar tweede op die Sanlam Carltonbeker punteleer geëindig, wat dus hul deelname aan die God Cup toernooi verklaar.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
