Knights Jeugrugbyklub gereed vir nuwe seisoen
Dis weer tyd vir Jeugklub rugby en die Knights Jeugrugbyklub is gereed om die 2026 seisoen aan te pak by hul nuwe tuiste op die sportgronde van die Woodhill College in die ooste van Pretoria.
Terwyl die Knights rugbyklub se senior spanne steeds op koers is om almal vanjaar die halfeindrondtes van die Blou Bulle Rugby-unie se Presidentsliga te haal, skud die Knighs Jeugrugbyklub hul vere reg vir die nuwe seisoen, wat eerskomende naweek afskop.
Dié Jeugrugbyklub is deesdae gesetel by die Woodhill College se sportgronde in De Villebois Mareuil-laan 43, Pretorius Park.
Twee baie leersame rugbyklinieke is die afgelope maand deur die klub aangebied, wat reeds heelwat belangstelling gaande gemaak het.
Die Jeugklub se amptelike oefeninge skop hierdie week af met die oog op die eerste wedstryde wat reeds vandeesmaand sal begin.
Jeugklub rugby bied die geleentheid aan jong rugbyspelers wat hul seisoen wil verleng om nie net verdere speelkans te kry nie, maar ook blootgestel te word aan puik afrigting, wat hul vaardighede merkwaardig kan verbeter. Terwyl daar gedurig gesoek word na meer ervare afrigters, het die bestuur van die Knights reeds ten minste twee oud Springbokke gewerf om vanjaar met die afrigting van die klub se seuns te help.
Die Knighs Jeugrugbyklub fokus op die ouderdomsgroepe o.6 tot o.13 en terwyl oefeninge op weeksaande plaasvind, word wedstryde op Saterdae gespeel teen ander Jeugklubs van Pretoria. Oefeninge vind plaas op Dinsdae, Donderdae en Vrydae vanaf 18:15 by die Woodhill College.
Volgens die bestuur van die Knights Jeugrugbyklub is verskeie borge reeds vanjaar gewerf om betrokke te raak, wat verder bydrae tot die kwaliteit van elke speler se jeugklub rugby-ervaring. Ouers wat belangstel om hul laerskoolseuns se rugbyvaardighede te verbeter en hulle aan ’n nuwe rugby omgewing wil blootstel word dus uitgenooi om hulle by die Knights Jeugrugbyklub in te skryf.
Alle seuns wat binne die genoemde ouderdomsgroepe kwalifiseer is welkom om aan te sluit, hetsy of hulle enigsins by skolerugby betrokke is.
Vir meer inligting, skakel Stefanie van Niekerk by 072-445-3051.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
