Local sportSport

Dis Naka Bulle teen Harlequins en Centurion teen Tuks in Carltonbeker halfeindstryde

Die Sanlam Carltonbeker halfeindstryde sal op 22 Augustus in die Moot tussen Naka Bulle en Harlequins en in Centurion tussen Centurion rugbyklub en Tuks beslis word, nadat die ligafase van die toernooi die afgelope naweek afgehandel is.

Die Sanlam Carltonbeker klubrugby toernooi se halfeindstryde op 22 Augustus sal ’n herhaling wees van die afgelope naweek se laaste ligabepalings.

Die verdedigende kampioen, Naka Bulle, wat die afgelope naweek maklik met 50-26 afgereken het met Harlequins, sal die Blokkiestruie oor twee weke op hul tuisveld in die Moot aandurf, terwyl Centurion gasheer sal speel vir Tuks, nadat die studente hul ligabepalings tydens ’n taai en spannende wedstryd met ’n nederlaag teen Jacques Potgieter se manne in die suide van die stad afgesluit het. Centurion het met 31-29 gewen.

Die uitslae van albei Saterdag se wedstryde waarmee die ligabepalings van die toernooi afgesluit is, kon nog die finale puntestand deurslaggewend beïnvloed. Uiteindelik het die twee spanne wat die naweek bo-aan die punteleer begin het, albei oorwinnings behaal om hul aanspraak op gasheerstatus in die halfeindstryde te behou.

– In Groenkloof het Naka Bulle gewys dat hulle daarin geslaag het om die leemtes in hul spel aan te spreek wat veroorsaak het dat hulle hier en daar deur die seisoen ’n wind gesluk het. Met twee agtereenvolgende vyftigtalle teen Tuks en Harlequins die afgelope twee weke moet die manne van die Moot beslis weer die gunsteling wees om hul titel aan die einde van die maand te verdedig.  

Dit het Bielie Grundelingh en sy makkers net drie minute geneem om die telbord aan die gang te kry toe JJ Motlhodi deurgeglip het vir die eerste van sy span se agt drieë.

Harlequins het teruggeveg met ’n kragdrie deur haker De Wet Lottering vanaf ’n dryfbeweging, maar die besoekers se ander vleuel, John-Osunkwo Onyekachi, het dié sewe punte byna dadelik uitgewis met sy drie. Toe die oud Bulls speler James Verity-Amm daarna deurdraf ná ’n beweging direk van die afskop af, het die tuisspan die druk begin voel.

Agtsteman Luhan Potgieter se drie het die bonuspunt vir Naka Bulle reeds na 20 minute se spel verseker.

Enrique Oranje se drie vir die tuisspan het die skade effens ligter gemaak, maar met die rustyd telling op 31-14 in die besoekers se guns, sou Harlequins ’n wonderwerk nodig hê om die skip om te draai.

Verity-Amm se tweede drie kort na die omdraaislag het die gaping op die telbord verder gerek. Naka Bulle se vyftigtal was boonop tien minute voor die eindfluitjie reeds op die telbord en hoewel Harlequins nooit gaan lê het nie, was die bonuspunt drie wat hulle in die doodsnikke van die wedstryd gedruk het eintlik net ’n troos.

– In Centurion het Tuks hulle vasgeloop in ’n gemotiveerde Centurion span, wat elke week beter lyk onder die afrigting die kombinasie tussen Jacques Potgieter en Riaan Brand.

Centurion het sake voorlangs oorheers en veral in die eerste helfte goed daarin geslaag om Tuks se vlugvoetige agterspelers in toom te hou.

Na ’n taai eerste helfte was Centurion teen rustyd met 14-7 voor, maar in die eerste kwartier na waterdrink tyd het die studente wel daarin geslaag om die tempo op te jaag en twee keer te gaan druk om die voortou te neem op die telbord.

Onder leiding van hul ervare en uitgeslape kaptein, Albert Bakker, het Centurion weer beheer oor die tempo gekry en stadig maar seker die agterstand uitgewis.

Halfpad deur die tweede helfte het die tuisspan se woelige skrumsakel, Corné Boland, tussen die voorspelers ingewurm ná ’n dryfbeweging om sy span se bonuspunt drie te druk en sake gelyk te maak.

Goeie srumwerk in die rooi gebied het Centurion in staat gestel om vinnige fases af te dwing, waarna die bal wyd gespeel is vir linkervleuel Joshua Swart se tweede drie.

Tuks het in die laaste spannende minute ook weer gaan druk, maar hul doelskop is verbrou, wat die naelskraapse oorwining aan die tuisspan besorg het.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button