Local sportSport

Naka Bulle klop Centurion in Gold Cup riller-stryd

Naka Bulle, die verdedigende Gold Cup kampioen, het Centurion Saterdag in ’n opwindende en spannende wedstryd met een punt geklop, nadat hulle die wendrie in die 42ste minuut van die tweede helfte kon druk om na die kwarteindrondte van dié nasionale klubkompetisie deur te dring.

Toe die eindfluitjie Saterdag kort voor 18:00 op Centurion rugbyklub se veld blaas om die einde van die tweederondte-wedstryd in die nasionale Gold Cup klubkompetisie tussen dié klub en Naka Bulle aan te kondig, was daar twee gedagtes waaroor almal wat dié wedstryd bygewoon het kon saamstem:

Eestens, hierdie wedstryd moes nooit in die tweede rondte van die kompetisie plaasgevind het nie. In in die tweede plek was daar konsensus dat dit jammer is dat daar ’n wenner moes wees, want enige van die twee spanne kon dié klubrugby-oorlog gewen het. Naka Bulle was egter die wenner van dié spannende stryd toe hul wendrie in die 42ste minuut van die tweede helfte die eindtelling op 46-45 in hul guns te staan gebring het.

Ongelukkig het SA Rugby verlede jaar besluit om, nadat die klubs uit die noorde van die land die kompetisie drie jaar lank oorheers het, die loting-stelsel te verander om seker te maak dat daar altyd ’n noord vs suid eindstryd sal wees. Dít is die rede waarom twee Carltonbeker klubs soos Centurion en Naka Bulle mekaar in die tweede rondte ontmoet het, terwyl hulle andersins waarskynlik in die halfeind- of eindstryd eers teen mekaar te staan sou kom.

Nadat Centurion daarin geslaag het om Naka Bulle vanjaar tweemaal te klop in die liga-fase van die Carltonbeker toernooi, het die manne van die Moot Saterdag na die suide van die stad gereis met die wete dat nóg ’n groot aanslag op hulle wag. Soos in die Carltonbeker wedstryde was dit te wagte dat Centurion veral voorlangs die pap dik sou aanmaak om Naka Bulle se sterkpunt te neutraliseer.

Dít is presies wat hulle gedoen het. Hulle het veral in die vaste skrums groot sukses behaal en die besoekers, wat beslis hul beseerde eerstekeuse stutte – Ruan “Bielie” Grundelingh en Cassie Bezuidenhout – gemis het, moes diep self om dié aanslag te oorkom. Grundelingh se ervare leierskap is beslis ook gemis in hierdie intense wedstryd.

Nóg ’n ervare voorspeler, die vuurvreter flank Marco van Baalen, was ook nie beskikbaar vir die wedstryd nie en afrigter Marinus van der Watt het Maxwell Osborne, ’n “hibride” speler wat aanvanklik as vleuel bekend geword het, op flank gekies.

Ten spyte van hierdie veranderinge het Naka Bulle steeds met ’n reuse aanslag voorlangs as deel van hul wedstrydplan gekom en die helfte van hul agt drieë – ook die wendrie – was die resultaat van kragtige dryfbewegings.

Centurion het egter dieselfde aanslag gehad, maar hulle het hul spel meer afgewissel en was veral besonder goed as hul voorspelers in die rooi gebied deur verskeie fases kon dryf, waarna die bal dan vinnig wyd gespeel is vir die agterspelers om te druk.

Beide spanne het ook gereeld die bal lug gegee en van die wedstryd se mooiste drieë is gedruk ná teenaanvalle uit eie gebied.

Toe Centurion se linkervleuel, Siya Tyulu, sy tweede drie druk nadat wyd gespeel is van ’n skrum, het die telling op 45-36 gestaan met nege minute speeltyd oor en dit wou lyk of Naka Bulle hul tweede titel in een seisoen sou verloor.

Soos dit egter ’n kampioenspan betaam het Naka Bulle diep uit hul eie gebied met ’n teenaanval begin wat sou lei tot plaasvervanger skrumskakel, Ettiene Storm, se drie. Die drie is nie verdoel nie, maar dié vyf punte het die verskil na vier laat krimp en Naka Bulle se ondersteuners het weer begin hoop.

Die besoekers het alles in die stryd gewerp en in die laaste minute gevorder tot kort voor hul doellyn. ’n Strafskop nadat die laaste toeter reeds geblaas het, het aan Naka Bulle die geleentheid gegee om wéér met ’n lynstaan-dryfbeweging die doellyn te haal en hul plaasvervanger haker, Franco Botha, was die man wat kon afrond om die oorwinning uit die kake van ’n nederlaagte ruk.

* Naka Bulle speel eerskomende naweek tuis in die kwarteidstryd teen die Leeus-klub, Randfontein.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button