Local sportSport

Willem Strauss onbestrede herkies vir ‘n vierde termyn as Bloubul president

Die onbestrede herverkiesing van die Blou Bulle Rugby-unie se president, Willem Strauss, vir nog ‘n termyn is ’n getuienis van die stabiliteit en vooruitgang wat die afgelope agt jaar onder sy leierskap by Loftus Versfeld gevestig is.

Met sy herverkiesing verlede week vir nog ’n termyn van vier jaar, is die president van die Blou Bulle Rugby-unie (BBRU), Willem Strauss, nou op pad om dié unie vir langer as ’n dekade te lei.

Strauss is reeds sedert Maart 2018 in die saal en as hy die nuwe termyn uitdien sal hy 13 jaar as Bloubul land se rugby-leier dien.

Slegs die legendariese prof Fritz Eloff (1965 – 1990) en die unie se heel eerste president, Hendrik Davel (1938 – 1955) se termyne was langer as dié van Strauss, terwyl hy vir enkele jare reeds die langsdienende president in die professionele era is.

Strauss is reeds langer in dié pos as vorige presidente soos Ulrich (Uli) Schmidt, pa van Louis en oupa van Uli jr. (1956 – 1957); Dr. Gert Potgieter (1958 – 1964); Hentie Serfontein (1990 – 1997); Piet Olivier (1997 – 2001); Dolf van Huyssteen (2001-2005); Boet Fick (2005 – 2010), Louis Nel (1010 – 1014) en Gert Wessels (2014 – 2018).

Nadat Wessels sowat nege maande voor die einde van sy termyn in Maart 2018 bedank het, is Strauss nadergetrek om die leisels oor te neem in ’n moeilike tyd vir die unie. Ná sy kort eerste termyn is hy later daardie jaar herkies en dien sedertdien onverpoost in die pos.

Dr. Johan Rupert (regs), een van die aandeelhouers in die Blou Bulle Maatskappy, was een van die eerste mense wat Willem Strauss (links) gelukgewens het met sy onbestrede herverkiesing as president van die BBRU. Foto: Verskaf

Die feit dat Strauss onbestrede herkies is, is nie net ’n aanduiding van sy sterk posisie in die unie nie, maar ook ’n getuienis van die reuse vordering wat die BBRU op beide amateur- en professionele vlak gemaak het in sy ampstermyn.

Sy reputasie is veral gebou op die wyse waarop die unie én die Blou Bulle Maatskappy se finansiële situasie onder sy leiding gestabiliseer is, die vordering van die professionele span sedert die oorgang van Super Rugby na die Verenigde Rugby Kampioenskap en Europese era, die vestiging van professionele strukture vir vrouerugby en veral die herlewing van klub- en amateur provinsiale rugby op alle vlakke.

Strauss se aandeel in die heropbou van klubrugby en die hervestiging van die unie se amateur provinsiale spanne is enorm.

Reeds na sy verkiesing as vise-president belas met klubrugby in 2014 het hy strukture begin bou. Sy Enrista Skoletoernooi het aan skolespelers (spesifiek matrikulante) wat nie by enige jeugweke betrokke was nie, die geleentheid gebied om in die kleure van Carltonbeker klubs verteenwoordigende rugby te speel en aan die klubrugby-kultuur blootgestel te word.

Daaruit het ook die heropbou van die o.20 klubligas gevolg, wat self ’n reuse rol gespeel het om klubrugby weer gesond te maak. Strauss se betrokkenheid by klubrugby op alle vlakke is ongekend in die moderne era.

Willem Strauss (links) saam met die twee manne met wie hy groot verantwoordelikheid dra op Loftus Versfeld. In die midel is Johan Ackermann (hoof afrigter van die Bulle) en regs is Edgar Rathbone, Hoof Uitvoerende Beampte van die Blou Bulle Maatskappy. Foto: Verskaf

Die herinstelling van die Loftus 200 span, wat aan Carltonbeker spelers die geleentheid bied om met die Babertonse madeliefie op die bors te speel teen provinsiale en internasionale teenstand, asook die herinstelling van die provinsiale Platteland toernooi waar spelers uit nie-Carltonbeker klubs ook hul provinsie kan verteenwoordig, was ’n veredere veer in Strauss se hoed.

Selfs die herlewing van die nasionale Gold Cup klubrugby toernooi was Strauss se breinkind en dis deur sy inisiatiewe gedryf.

Een van die mede aandeelhouers in die Blou Bulle Maatskappy, dr. Johan Rupert, het sy tevredenheid met Strauss se herverkiesing uitgespreek.

“Willem het aan ons stabiliteit gebring wat regdeur die ekosisteem loop – van skole en klubs tot by die vrouespan en die senior franshise span. Dis ’n rare verskynsel en sy voortgesette presidentskap is ’n kragtige onderskrywing van sy passie en toewyding en veral sy vermoë om dinge te laat gebeur,” het Rupert gesê.

Ook Dr Patrice Motsepe, die ander aandeelhouer in die Blou Bulle Maatskappy, het lof vir Strauss gehad met sy herverkiesing.

Willem Strauss aan die woord by ‘n skolerugby funksie. Hy is waarskynlik die aktiefste president in die BBRU se geskiedenis. Foto: Verskaf

“Baie geuk aan Willem met sy herverkiesing. Die prestasies van die unie se spanne in verskeie ligas is ’n getuigskrif vir sy leierskap en passie vir die spel. Ons is trots op die wêreldklas bestuurstrukrure wat by die Bulle gevestig is,” het Motsepe opgemerk.

Strauss is ’n man van dade en waarskynlik die aktiefste president in die geskiedenis van die BBRU, wat nie net op Saterdae in die presidentslosie van Loftus Versfeld te sien is nie. Hy is byna voltyds in diens van rugby in Pretoria en geen klub, skool of ondersteunersforum is te klein of onbelangrik vir hom om met raad en daad by te staan nie.  

Vir hom is die uitbouing van die voerband van rugbytalent ’n reuse prioriteit, terwyl die skep van geleenthede om die spel op alle vlakke te bevorder een van sy sterkpunte is.

“Ek geniet elke aspek van my rol as president van die BBRU. Dit is vir my ’n bron van vreugde en sukses op alle vlakke is die volmaakte beloning wat enigiemand in my posisie kan verwag. Ek sal voortgaan om die spel te dien vir so lank as wat ek ’n verskil kan maak. My ambisie bly steeds om die Bulle op en van die veld af as die beste rugby-unie in die wêreld te vestig,” het Strauss na die verkiesing gesê.   

Hy het ook sy dank en lof uitgespreek aan sy kollegas in die uitvoerdende raad, asook die amptenare van die BBRU.

* Ben Eybers van die Harlequins rugbyklub is herkies as adjunk-president van die BBRU en die nuwe vise-presidente wat verkies is, is Thinus Joubert (Naka Bulle rugbyklub), Theo Schoeman (Centurion rugbyklub), Gert Mulder (BBRU Afrigtersvereniging), prof. Neels van Heerden (Pretoria Rugbyklub/Presidentsliga klubs), Peter Moila (Reserweliga klubs), Collin Little (BBRU Skeidsregtersvereniging) en Henry Verster (BBRU Hoërskolevereniging).

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button