‘n Elektriese kragwonder diep in die bos
Oorgnoeg elektriese krag diep in die bos en dit kom omtrent verniet.
Weggesteek tussen die suikerbos, blompeer, kiepersol, moepel, stamvrug en kannabas, draai die groot sonpaneel al met die sonpad aan. In die steil opdraande pad na sy kleinhoewe by Zwavelpoort lê die kuttels van duikers en hase tot by die huis wat knus tussen twee koppies nestel. Dit is eers as jy heel bo kom dat jy die tegniese wonderwerk van totale onafhanklikheid aan aangelegde elektrisiteit of water sien, want van die pad af sien jy niks.
Inus Dreckmeyr (51), ‘n elektroniese ingenieur, het geen bekommernis van gewone mense oor elektriese kragonderbrekings, ontydige beurtkrag, hoë elektrisiteitsrekeninge of lomp administratiewe foute van die munisipaliteit nie.
Doer in die verte is die tentekoepel van Atterbury Mall te sien. Kom skemeruur, word die kleinhoewe lappies uitgemerk met huise waarvan die ligte een na die ander aangaan, maar middernag is dit weer donker want krag is duur. Maar nie by sy huis nie, want hier, dag of nag werk sonpanele of ‘n windlaaier onafgebroke om groen, omgewingsvriendelike krag te lewer. Nêrens op sy kleinhoewe is daar kragdrade of pale nie.
“Ja, dit het deeglike beplanning gekos. Aan die huis self het ons vyf jaar lank gebou en die beplanning om totaal onafhanklik en genoeg elektrisiteit te verskaf, was net so deeglik beplan soos die huis. Daar is ‘n hele paar komponente wat in fyn assimilasie met mekaar werk, soos die bank van spesiale batterye wat ‘n vinnige ladingvermoë het, die reuse sonpaneel wat geprogrammeer is om die son loodreg op te vang en in tye van sterk wind plat te gaan lê. Dan gaan die groot windlaaier voort om krag te laai. En o-ja, daar is ook ‘n fris kragopwekker wat kan uithelp as die weersomstandighede so is dat die son dae aaneen nie skyn of daar geen wind is nie,” vertel Dreckmeyr.
As uitvoerende hoof van die elektroniese navorsingsmaatskappy Netshields, is elektronika vir hom nie werk nie, maar ‘n passie. Met trots wys hy na die sonpaneel. “Sien jy daardie lang arm, dit kantel die hele stellasie met al sy panele na die vlak van die son bo die horison en daardie suier sorg dat die hele paneel saam met die son beweeg. Sensorpypies waarin die son skyn bepaal weer hoe vinnig die stellasie outomaties saam met die son moet draai. Die ontwerp werk uitstekend,” vertel hy trots.
Dreckmeyr wys na die dak waar stringe liggies aan die dwarsbalke hang. Sommige liggies skyn boontoe om die grasdak te belig. In die sitkamer brand ‘n groot kroonkandelaar helder. In kaste of bo die broodrooster brand liggies sodat sy vrou Marien nooit in gedempte lig hoef kos te maak nie. Die stoof en oond en warmwater-selinders is die enigste items in die huis wat nie met elektriese krag werk nie, maar met gas.
Dreckmeyr wys na die ry yskaste: “Ons probeer so onafhanklik as moontlik lewe. Die sonpanele en batteryebank lewer oorgenoeg krag om ons vyf yskaste, skottelgoedwasmasjien, wasmasjien, al die televisiestelle, die ses slaapkamers, die swembadpomp, die boorgatpomp, ons veiligheidsbedrading en outomatiese hekke onafgebroke van oorgenoeg elektriese krag te voorsien. Trouens, die sonpaneel alleen kan met een dag se son twee dae se elektrisiteit lewer,.
Dreckmeyr gee toe dat hierdie hiper-moderne wonderwerk in die bos nie ‘n goedkoop opsie is nie, maar eerder ‘n antwoord op totale onafhanklikheid. “My instandhoudingkoste is slegs sowat R70 per maand wat hoofsaaklik vir die aankoop van batterywater is. Met so ‘n stelsel moet ‘n mens fyn beplan dat alles outomaties en foutloos verloop. In die beplanning van so ‘n stelsel moet ‘n mens van meet af haarfyn weet dat al die komponente die regte items is en dat elkeen met die ander een se spesifikasie en eise versoenbaar is, want die komponente is duur en dit kan ‘n man ‘n aardige bedrag uit die sak jaag as jy verkeerd te werk gaan. Juis daarom is daar ook beheermeganismes ingebou. As iets fout gaan, laat weet die stelsel my outomaties per SMS boodskap.”
Op die vraag waarom daar nie meer mense in Pretoria se woonbuurte met groot gronde is wat hul onafhanklik van Eskom maak nie, het hy laggend verduidelik. “Dit sal wees soos ‘n fietsryer wat nog ekstra twee wieletjies by die agterwiel wil aansit. Dit is onnodig om heeltemal onafhanklik te wil wees waar daar reeds krag is. In sulke omstandighede ontwikkel ons eerder vir ‘n persoon ‘n hibride-stelsel waar minder batterye nodig is en sonpanele wat jy op die dak van jou huis kan sit. Dit word dan met ‘n stroomkrag-omskakelaar gekoppel en die stelsel kan genoeg krag vir jou huis lewer en die oortollige krag in die bestaande elektriese netwerk terugpomp. In effek draai dit die kragleweringswieletjie dan in die teenoorgestelde rigting, wat beteken dat jou rekening vir gelewerde elektriese krag met elke draai van die wieletjie kleiner word en jy nou aan Eskom krag lewer. Kom daar ‘n kragonderbreking of beurtkrag dan word jy nie daardeur geraak nie, want jy het genoeg opgepotte elektriese krag. Die stelsel is egter uiters tegnies van aard en as iemand so iets wil doen, beveel ek aan dat hy eers kundige advies kry.”
Dreckmeyr se vrou, Marien, vertel hoe haar gesin die idee van onafhanklikheid ‘n stappie verder geneem het. “Ons bespaar nie krag nie. Ons is net meer bewus daarvan. Ons het ‘n paar sterk boorgate wat skoon water lewer, dus het ons ook ons eie groentetuin, slagvee en hoenders. Die hoenders en eiers het in die jongste tyd ‘n bietjie van ‘n probleem geword met die jakkalse en rooikatte wat dit ontdek het. Dus koop ons nou maar hoenders en eiers en alhoewel ons ‘n Dexter-koei het, is dit in hierdie stadium meer gerieflik om ook maar die melk aan te koop,” vertel Marien.
Vir gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
