Pretoria-sanger is Mnr Julie
Hy pryk smeulend op die foto. Sy sespak-maag kliphard en bruingebrand. Andries Hendrik Potgieter het sy debuut in die Cosmopolitan Sexy Man-kalender gemaak en sy oog is nou om as die sexieste man in die land gekroon te word.
Julie-maand gaan nooit weer dieselfde wees nie.
Dit is nou as jy ’n Cosmo-kalender aanskaf en die Pretoriase sanger Andries Hendrik Potgieter (30) op die sewende maand van die jaar daarin sien smeul.
Die nasaat van die Voortrekkerleier Andries Hendrik Potgieter, nee, die oeroupa sal nie in sy graf omdraai oor sy naamgenoot se kaalbolyfpronkery nie, is een van die spiertiere wat die jaar in die kalender verskyn.
En dit is nie ’n geringe prestasie nie – spiertiere sal hulle wel, spiere gee — om tog net hulle oomblik van glorie in die kalender te kry.
“Ek het nie eens geweet ek het die kalender gehaal nie,” het Potgieter Maandagoggend aan Rekord gesê. “Dit was vir my omtrent ’n verrassing.”
Die tydskrif Cosmopolitan het ’n nominasieproses waar hulle die publiek en hulle lesers vra om uit ’n hele paar aantreklike manne te kies. Daarna word 12 manne gekies en ’n maand word aan elkeen toegeken.
Die Springbok-rugbyspeler, Damian de Allen, en die model DuToit Botha het ook die kalender gehaal.
Potgieter het eers naam as Afrikaanse volksanger gemaak, maar het sowat drie jaar gelede ’n kopskuif gemaak en die modewêreld betree.
“Ek het ’n projek in Florida aangepak en het daar ’n redakteur van ’n tydskrif ontmoet. Ek is in 2014 genooi om aan die New York Fashion Week deel te neem. Dit was ’n wonderlike ondervinding en die modegogga het my gebyt.”
Hy het intussen ook op die SA Fashion Week-loopplank gedebuteer en is in Ghana aangewys as die beste loopplankmodel.
Potgieter sê hy beskou homself nie as een van die aantreklikste mans in Suid-Afrika nie. “Ek dink ek was net op die regte tyd op die regte plek.”
Op die Cosmo-foto swymel hy met ’n sespak-maag en ’n denim waar sy onderbroek modieus uitsteek.
“Mense besef nie altyd hoeveel harde werk en tyd dit verg om só te lyk nie. Ek bring elke dag van die week in die gymnasium deur en as my skedule nie gimnasiumsessies toelaat nie, is daar ook oefening wat ek op pad na optredes moet doen,” vertel hy.
“Elke dag is ’n uitdaging en partykeer wil mens huil van uitputting, maar gelukkig motiveer die span my elke dag en mens pluk die vrugte. Ek is altyd reg om enige loopplank of fotosessie aan te durf.”
Die algehele wenner word op 28 Januarie bekend gemaak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
- Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.


