Die Finery Fair kunstefees in Pretoria
Staan ‘n kans om goeie kaartjies te wen.

Die Finery Fair is ‘n multikulturele kunstefees in Pretoria en vind hierdie jaar plaas op Kievits Kroon Country Estate op 24 en 25 September 2016.
Die eerste Finery Fair het plaasgevind op Erfenisdag, 24 September 2015 by Rosemary Hill. Met 3500 feesgangers wat deur die dag opgedaag het, was die Finery Fair ‘n reuse sukses.
Met die KKNK in Oudtshoorn, National Arts Festival in Grahamstown, Aardklop in Potchefstroom en Woordfees in Stellenbosch, het ons besef Pretoria met al sy talent, het ook ‘n platform nodig om met sy kuns en kultuur te pronk. So het die idee vir die Finery Fair ontstaan met dié verskil dat ons regtig graag die fees ‘n multikulturele gebeurtenis wou maak en ook alle kunsvorme wou insluit en tentoonstel. Items soos kookkuns, teater, musiek, fynkuns, mode ens sal daar ervaar kan word.
Die lentefees van Pretoria gaan hierdie jaar spog met 80 hoë kwaliteit uitstallers, wat ‘n verskeidenheid van produkte gaan verkoop soos leerprodukte, juwele, klere, kinderprodukte, organiese skoonheidsprodukte, handgemaakte pottebakkery, dekor en nog meer. Oor die naweek gaan daar ook teaterproduksies , ‘n kunsuitstalling, ‘n verskeidenheid musiekante wat optree deur die dag, ‘n ongelooflike verskydenheid van kos, wyn asook craft gin, whiskey en bier.
Saterdag se musiekprogram sluit in nuweling Kate Rok, die legendariese Silver Creek Mountain Band en vars terug van hulle Europese toer, Bottomless Coffee Band. Sondag is Sterlopers se Suzzi Swanepoel eerste aan die beurt voor die blues koning Gerald Clark die verhoog oorneem. Met die Pretoriaanse band Georgetown as die laaste optrede vir die naweek, gaan die partytjie behoorlik crescendo.
Beide teater produksies wat aangebied word gaan te siene wees op Saterdag en Sondag. Monolopy is ‘n Afrikaanse drama oor ’n nuutgetroude disfunksionele paartjie. Goedige Giel (7de Laan akteur, Herman Vorster) en vuilbek Anna (bekroonde aktrise Stephanie Gericke) kom by die hotel aan vir hulle wittebrood en besef dat hulle eintlik niks in gemeen het nie. Hierdie gewaarwording neem die gehoor op ’n donker liefdesreis. Reggie Goodwin speel die rolle van Giel se skelm broer Daniel, ’n onortodokse dominie en ‘n kamerbediende/kelner met ’n houding en dit sorg vir komiese oomblikke. Hierdie lag-met-‘n-traan produksie is geskryf deur Corne Joubert. Die tweede produksie, Kiu, wat dors beteken in Swahili, vat die gehoor op ‘n reis na ‘n somber wereld wat ‘n waterlose Suid-Afrika voorstel. In hierdie boeiende stuk speel bekroonde akteur en regiseur Mduduzi Nhlapo die hoofrol.
The Finery Makers corner is die nuutste byvoeging tot die fees, waar interessante werkswinkels aangebied gaan word vir die nuuskierige agies. Saterdag gaan Crafty Cultures ‘n werkswinkel aanbied oor “hoe om mozzarella by die huis te maak” en Sondag bied hulle een aan oor “die kuns van fermentasie”. Distillique bied Saterdag ‘n werkswinkel aan oor “hoe om jou eie Whiskey by die huis te maak” en Sondag “hoe om jou eie Gin te maak”.
Klimrame en springkastele sal altyd ‘n ou gunsteling met die kinders bly, maar hierdie jaar het ons besluit om unieke vermaak vir die kinders te verskaf – reg langs die kunspark. Finery Fair het kragte saamgespan met It’s Me, Kimmo and Lunchbox Vibes en ‘n kreatiewe spasie vir die kinders geskep naamlik die Kidpreneur Tentedorp. Ouers is welkom om hulle kinders in te teken teen ‘n addisionele koste, betaalbaar aan It’s Me! en met ‘n geruste hart die res van die kuns en kultuur te geniet.
Kaartjies kos R 120 per dag, R200 vir die naweek aanlyn en sluit al die bogenoemde vermaak in. Neem asseblief kennis dat feesgangers apart moet bespreek vir die teater produksie van hul keuse, al is die vertoning verniet. Kaartjies op die dag kos R150 as dit by die hek gekoop word. Kaartjies is beskikbaar teen die goedkoper prys by https://thefinery.co.za/tickets/
Staan ‘n kans om vier dubbel kaartjies te wen om die kunstefees by te woon. Om vir die kompetisie in te skryf, vul gerus die inskrywingsvorm hieronder in en gebruik die word ‘FINERY’ in die sleutelwoord blokkie. Kompetisie sluit die 20 September 2016.
