Weste se gemeenskap-Kersprojek se liggies gaan helder skyn
“Kersvader sal vir ’n halfuur lank beskikbaar wees vir interaksie by elke halfpadmerk.”
Die liggies sal Woensdagaand behoorlik helder skyn met die afskop van die gemeenskaplike Kersprojek in die weste van Pretoria.
Dit is die sewende jaar dat Xander Loubser van Best Care, inwoners, polisie, brandweer en die GPF bymekaarkom om vir kinders en bejaardes geskenke uit te deel.
Die hoogtepunt van die Wes-projek is ’n besoek deur Kersvader.
“Elke jaar sit Kersvader agter op ’n lae sleepwa wat as ’n slee dien en deel opgemaakte pakkies aan kinders uit,” sê die stigter van die projek, Lizelle Correia.
Loubser sê ’n totaal van 10 030 pakkies is opgemaak.
LEES OOK: Vele donasies vir Kersprojek
Verder word beplan om ’n 1 000 pakkies vir bejaardes te pak wat hulle tussen 21 en 24 Desember gaan uitdeel.
“Ons het gesien dat hulle (bejaardes) soms baie eensaam is en daardie interaksie nodig het.”
Hulle begin elke aand om 17:00 tot hulle die roete vir die aand voltooi het.
“Kersvader sal vir ’n halfuur lank beskikbaar wees vir interaksie by elke halfpadmerk,” sê Loubser.
Die roete op 21 Desember sluit die volgende gebiede in: Mountain View, Suiderberg
en Lady Selborne.
Op 22 Desember sal hulle die volgende areas besoek: Booysens, Daspoort, Hermanstad.
Inwoners kan op 23 Desember vir hulle uitkyk in Pretoria-Tuine.
Die laaste roete sluit in Danville af op 24 Desember.
“Vir die hele projek het ons ’n totaal van net oor die R40 000 ingesamel en alle oorblywende fondse sal oorgedra word na volgende jaar se projek. Alle oorblywende pakkies gaan ons aan ander organisasies en Kersprojekte skenk,” sê Loubser.
“Een van die Kersprojekte vir wie ons gaan pakkies skenk, is ’n projek wat deur DA-raadslid Elma Nel behartig word.”
Nel en Kersvader beplan om hospitale in die weste en Moot te besoek om geskenke by die kindersale uit te deel.
Verskeie organisasies het saamgespan om die projek vanjaar moontlik te maak.
LEES OOK: Verligting vir die feesseisoen
Onder hulle is Hercules-gemeenskapsveiligheid assosiasie, die Hercules-GPF, die Emergency Response Team, die Area Patrol Unit, AfriForum en xXx Insleepdienste.
DA wyk-raadslede Elma Nel en Elmarie Linde is ook by die projek betrokke.
Loubser vra vooraf om verskoning vir die geraas van die sirenes.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Instagram en Twitter blaaie.
