Suid-Afrika keer terug na jou Skepper
As ons mense maar net daarby kon hou, sou geen polisiemag, weermag, tronke of regstelsel nodig gewees het nie.

Rekord-leser skryf:
Dit het tyd geword dat ons in SA ons probleme reguit in die oë moet kyk en die waarheid met mekaar begin praat.
Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons jeug. Hoekom gaan dit so in ons land? Want ons het ongehoorsaam geraak teenoor ons Skepper. Ons het nagelaat om ons Skepper se wette te onderhou en ook nie toegesien dat dit onderhou word nie. Ons kerke, alle volwassenes asook die regering het ons Skepper versaak. Ons jeug dink vandag dit is die norm.
Het u al ooit gedink hoe goed die Liewe Vader hierdie reëls of wette uiteengesit het? As ons mense maar net daarby kon hou, sou geen polisiemag, weermag, tronke of regstelsel nodig gewees het nie.
Die Bybel leer ons dat ons in die wêreld moet wees maar nie van die wêreld nie. Jesus sê self van Sy volgelinge: “Hulle is nie van die wêreld nie.” (Joh. 17:15-17)
Daarmee erken Jesus dat Satan eintlik die wêreld regeer en almal wat ongehoorsaam is aan ons Skepper is eintlik van die wêreld. Ons lewe in hierdie wêreld is ’n toets, ons moet ’n keuse maak aan wie ons gehoorsaam gaan wees. Ons Skepper? Of Satan? Gaan u die regte keuse maak en eendag saam met Jesus leef? Of gaan u maar eendag saam met die wêreld verdoem word?
Wat sien jy as jy na ons land se situasie kyk? Ek sien ’n stukkende land, met stukkende mense wat hul Skepper en Sy woord verloën het, wat deur Satan verblind word en wat nie meer veel van God se lig in hierdie wêreld sien nie. Wat die heeltyd kerm en kla en nie weet hoe om die situasie in hierdie stukkende land te verander nie. Ek sien ’n donker toekoms vir ons land as ons gaan aanhou om ons rug op ons Skepper te draai.
Daar is net een oplossing. Ons moet terugkeer na ons Skepper. Hy het vir ons presies gesê hoe ons moet leef.
Hierdie brief word gerig aan almal wat sê hulle is Christene, maar nagelaat het om op te tree toe dinge begin skeef loop het. Toe Sondae vir besigheid oopgestel is.
Ons moet nou wakker skrik, belydenis doen van ons ongehoorsaamheid en ons Skepper begin dien soos wat Hy vir ons gesê het ons moet doen. God is nog altyd dieselfde en Hy wag vir ons om terug te keer soos die vader vir sy verlore seun gewag het.
As ons ons land wil red moet ons terugkeer na ons Skepper. Dit is tog ons Skepper wat regerings aanstel. Ons is in hierdie situasie omdat ons ontrou aan ons Skepper se wette is.
Dit is baie jammer dat ons nie ons Bybels gelees het nie, want dan sou ons uit die geskiedenis geleer het dat God Sy volk straf deur ’n heidense regering oor sy volk aan te stel. Dit is presies waar ons vandag is en ons leer nog nie. Gaan ons nog wag tot ons nog meer gestraf word voor ons wakker skrik?
Kom ons vat hande en bid dat ons Skepper ons genadig sal wees. Dat ons Skepper vir ons ’n Godvresende regering sal gee, wat Sy wette sal afdwing en dat ons ’n beskaafde en geredde land sal wees. Amen.
se/sl
