Saarkie praat oor nuwe avontuur-geïnspireerde enkelsnit
Die rock-groep praat met Rekord oor hul nuwe treffer, hul jaar planne en Afrikaans is Lekker.
Die immer-gewilde rock-groep, Saarkie, het pas hul nuwe enkelsnit “Suidwes-Afrika” vrygestel. Hierdie treffer volg in die suksesvolle voetspore van hul vorige vrystellings, “Vir Altyd” en “Langpad”, wat vir weke op trefferparades landswyd gepronk het.
Rekord het met Saarkie gepraat oor hul avontuur by die Visrivier-canyon in Namibië wat gou in ’n traumatiese ondervinding verander het. Dit was immers die inspirasie agter “Suidwes-Afrika”.
“Ons avonture gee vir ons inspirasie vir ons liedjies – ons het die Visrivier-canyon in Namibië gaan stap wat, 90km lank is. Meer as die helfte van die groep het verdwaal en vir drie dae weggeraak sonder kos of water. Hulle is uiteindelik gevind en dit was baie traumaties vir almal,” verduidelik die groep aan Rekord.
LEES OOK: COMPETITION: Afrikaans all-girl rock band Saarkie to launch new album
Die groep vertel dat die liedjie altyd spesiaal vir hulle sal bly omdat dit ’n lewenservaring was wat hulle nooit sal vergeet nie.
“Oorspronklik was dit vetpret,” sê Lila.
“Ons sou nooit kon dink dat dit op so manier sou eindig nie.
“Toe ons vriende nie by die eindpunt aangekom het teen sonsonder nie, het ons geweet iets is verkeerd. Baie mense het gehelp soek na hulle en ons was so bly toe almal veilig terug is. Die liedjie is spesiaal want dit was hoe ons gevoel het op daardie oomblik toe almal na hulle gesoek het.”
Die rock-groep het ’n jaar vol geleenthede wat voorlê in 2019. Nie net toer hulle Nieu-Seeland en Australië as deel van die Afrikaans is Lekker-fees nie, hulle het besluit om die toer in ’n welverdiende vakansie te omskep.
“Ons het elkeen ’n paar familiede wat in beide lande bly, so ons sal ’n punt daarvan maak om by elkeen ’n draai te maak, en die meeste te maak van ons tyd daar.”
Op Saterdag, 11 Mei sal Saarkie in die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine optree as deel van Groot op die Gras, ’n splinternuwe musiek en leefstylfees vir die hele familie.
LEES OOK: Saarkie sorg vir goeie musiek
“Dis ’n familiegeleentheid waar baie ander Afrikaanse kunstenaars gaan optree met biertente, heerlike kosstalletjies en speelplek vir kinders, en dit sal lekker wees om Rekord-lesers daar te hê,” sê hulle.
Saarkie bestaan uit Adèle Fouché (kitaar- en mondfluitjiespeler, voorsanger en liedjieskrywer), Lila Botha (dromspeler en agtergrondstem) en Mjön van Blommestein (baskitaar-, ukulele- en mondfluitjiespeler, agtergrondstem en mede-liedjieskrywer) en vier vanjaar hulle tiende bestaansjaar.
Vir meer inligting, besoek gerus hul sosiale-mediaskakels:
Facebook: www.facebook.com/saarkieband/
Twitter: @SaarkieBand
Instagram: @saarkieband
Webblad: www.saarkie.com

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
