EntertainmentLifestyle

VIDEO: Aspoestertjie weer binnekort op verhoog in Pretoria

Aspoestertjie gaan Julie-maand op die Staatsteater-verhoog te siene wees.

Pretorianers kan solank hul tande slyp vir ’n skreeusnaakse Afrikaanse pantomime wat vanaf 5-28 Julie by die Staatsteater te sien sal wees.

Aspoestertjie bevat skerp teks, unieke en energieke danspassies en het binne dae in 2015 uitverkoop. Dis in dieselfde jaar genomineer vir nege Naledi-toekennings, onder meer vir Beste Musiekspel.

Karlien van Jaarsveld skitter in die titelrol, teenoor die talentvolle akteur Zak Hendrikz as die heldhaftige prins. Hendrikz is bekend vir die rolle wat hy in van Ballade vir ‘n Enkeling, Into The Woods en Binnelanders vertolk het.

LEES OOK: Groot nuus vir Karlien van Jaarsveld

Bekend vir sy uiteenlopende rolle in film, teater en op TV, speel Fezile Mpela (The Lion and the Jewel, Dis ek Anna en Donkerland) die rol van die verteller.

Die Getroud met Rugby-aktrise Marlee van der Merwe (ook in Liefling en Cabaret) slaan die spyker op die kop met haar uitstekende vertolking van die nare stiefma, terwyl die vlymskerp humor van die twee lelike stiefsusters (Tiaan Rautenbach en Mortimer Williams) oud en jonk gaan laat skaterlag.

Met gesoute regisseur Neels Claassen aan die stuur, beloof Aspoestertjie om weereens ’n hoogtepunt in Afrikaanse teater te wees.

Die verhoogproduksie word deur Renier en Lise-Marie Keyser vervaardig, wat sedert 2007 bekendheid verwerf het vir hul keurige oorspronklike Afrikaanse musiekspele: Houtkruis, Ester, Dawid, Liefling, Droomkind, Sneeuwitjie en Doringrosie.

LEES OOK: GALLERY: Magical ice wonderland enchants Pretoria audience

Hulle het nie verniet ’n reputasie as baanbrekers in die Suid-Afrikaanse teaterbedryf nie; vir meer as ’n dekade skep hulle karakter-gedrewe stories met uitnemende produksiekwaliteit.

Vat gerus die hele gesin saam na Aspoestertjie.

Moenie wag tot die horlosie twaalf-uur slaan nie, kry jou kaartjies sommer vandag nog.

Aspoestertjie is op die planke vanaf 5 tot 28 Julie 2019, met vertonings om 19:30 op Vrydae, en om 11:00 en 15:00 op Saterdae en Sondae. Kaartjies wissel van R160 tot R250 en is beskikbaar by Webtickets (www.webtickets.co.za) of by enige Pick n Pay-winkel.

Kyk na die lokprent van die 2015 Aspoestertjie-produksie:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button