Apiesrivier: Provinsiale owerheid sê metro moet plig nakom

Die voortslepende besoedelingsprobleem by die Rooiwal-afvalwateraanleg plaas die Apiesrivier, boerderybedrywighede en plaaslike waterbronne onder druk. Die Gautengse Departement van Omgewing sê ander nasionale owerhede dra die hoofverantwoordelikheid vir nakoming, afdwinging en die vasstelling van spesifieke spertye.

Die omgewingskrisis rondom die Rooiwal-afvalwateraanleg in Pretoria-Noord het nuwe vrae laat ontstaan oor wie uiteindelik verantwoordelik is vir die afdwinging van maatreëls voordat besoedelde water die Apiesrivier bereik.

Die Gautengse Departement van Omgewing sê sy rol word beperk deur die onderskeie wetlike bevoegdhede van die nasionale departemente wat die omgewingsmagtiging en watergebruikslisensie beheer.

Volgens die departement is die omgewingsmagtiging vir die Rooiwal-aanleg deur die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing uitgereik, terwyl die watergebruikslisensie onder die Departement van Water en Sanitasie val.

Dit beteken Gauteng se omgewingsdepartement is nie die leidende regulerende owerheid wat verantwoordelik is vir nakomingsmonitering en afdwinging nie.

Ephraim Mfolo, waarnemende direkteur van kommunikasie by die Gautengse Departement van Omgewing, sê die provinsiale departement kan gevolglik nie namens die twee nasionale departemente afdwingingsmaatreëls of spertye voorskryf, bepaal of bekendmaak nie.

“Die departement kan egter die implementering ondersteun van duidelike regstellende optrede, doeltreffende regulatoriese toesig en deursigtige kommunikasie oor maatreëls rondom besoedeling wat die Apiesrivier raak,” sê Mfolo.

Mfolo se standpunt plaas die aandag op die ingewikkelde verdeling van verantwoordelikheid tussen die verskillende regeringsvlakke.

Terwyl die metro die Rooiwal-aanleg bedryf, lê bepaalde regulatoriese bevoegdhede by nasionale instellings.

Vir boere in die omgewing bied dié onderskeid egter min onmiddellike verligting.

Boere en landbouleiers het tydens ’n vergadering op 29 Augustus met verskeie rolspelers kommer uitgespreek oor beweerde verliese aan oeste, damme, waterbronne en landboubedrywighede wat hulle met die besoedeling verbind. Die Vryheidsfront Plus se koukusleier in die metro, Willie Spies, het na die vergadering bekendgemaak sy party is reeds besig om regstappe oor die besoedeling van die Apriesrivier deur die metro te neem asook oor die nie-nakoming van hofbevele hierrondom.

Mfolo sê dié klagtes word ernstig opgeneem en dat boere en gemeenskappe aangemoedig word om besonderhede en stawende inligting formeel aan die department voor te lê.

“Waar sodanige klagtes verband hou met nakoming van die omgewingsmagtiging of watergebruikslisensie, sal dit na die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing en die Departement van Water en Sanitasie verwys word,” sê Mfolo.

Die departement onderskei terselfdertyd tussen omgewingsnakoming en privaat skadevergoeding.

’n Omgewingsondersoek kan volgens Mfolo help om die bron, aard en omvang van die besoedeling vas te stel, maar dit bepaal nie noodwendig stappe rondom finansiële verliese wat ’n individuele boer gely het nie.

“Sake rakende private finansiële verliese of vergoeding vir skade aan oeste, infrastruktuur of landboubedrywighede kan afsonderlike siviele of ander regsprosesse vereis,” sê Mfolo.

Die vraag oor die kapasiteit van die Rooiwal-afvalwateraanleg bly sentraal tot die omgewingsbekommernisse.

Indien die aanleg wesenlik bo sy ontwerpvermoë funksioneer en onvoldoende behandelde afvalwater die Apiesrivier en stroomaf waterstelsels bereik, ontstaan daar vrae oor die doeltreffendheid van bestaande beheermaatreëls en die aanspreeklikheid van die partye wat by die aanleg betrokke is.

“Die aanspreeklikheid op nasionale vlak doen egter nie afbreuk aan die verantwoordelikheid van die Tshwane Metro, as die bedryfsentiteit van die aanleg, om te verseker dat die afvalwaterbehandelingswerke bestuur, onderhou en bedryf word op ’n wyse wat besoedeling en omgewingsagteruitgang voorkom of tot die minimum beperk nie,” sê Mfolo.

Boere in die omgewing van die Apiesrivier kla oor hoe onbehandelde afvalwater van die Rooiwal-aanleg hul damme laat toeslik en selfs wanneer die damme opdroog, steeds die tekens van die slik dra. Foto: Verskaf.

Mfolo sê die departement sal voortgaan om met die toepaslike bevoegde owerhede oor die Rooiwal-kwessie te skakel.

Klagtes en inligting wat deur boere, gemeenskappe en ander belanghebbendes ingedien word, sal volgens die verklaring beoordeel en, waar nodig, na die toepaslike regulerende owerheid verwys word.

“Waar inligting ontvang word of ondersoeke onderneem word wat ’n moontlike oortreding van omgewingswetgewing binne die Gautengse Departement van Omgewing se mandaat identifiseer, sal die departement toepaslike regulatoriese optrede ingevolge die toepaslike wetgewende raamwerk oorweeg,” sê Mfolo.

Die departement verbind hom egter nie tot ’n spesifieke afdwingingstydlyn of uitkoms namens die nasionale departemente of die metro nie.

Volgens Mfolo vereis die beskerming van die Apiesrivier, omliggende gemeenskappe en die breër omgewing ’n gekoördineerde optrede tussen die Tshwane metro, die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing, die Departement van Water en Sanitasie en die Gautengse provinsiale regering.

“Die beskerming van die Apiesrivier, gemeenskappe en die breër omgewing vereis ’n gekoördineerde reaksie,” sê Mfolo, “met elke instelling wat sy onderskeie wetlike mandaat en verantwoordelikhede uitoefen.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button