Cameron lê strafklagtes oor dienshond se beserings, polisie stel ondersoek in
Waarskuwing Ontstellende Materiaal | Die polisie-dienshond Sky het ernstige beserings opgedoen by die polisiehonde-opleidingseenheid se hospitaal by Roodeplaat in Pretoria-Noord. Cameron sê diegene wat verantwoordelik kan wees moet aan die kaak gestel word.
Ian Cameron, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, het strafklagtes gelê ná die ernstige beserings wat polisiedienshond Sky by die polisie se Roodeplaat-fasiliteit vir hondeopleiding se veeartshospitaal opgedoen het.
Cameron het op navraag aan Rekord gesê hy het op 8 September van die hond se toestand gehoor.
Hy het strafregtelike klagtes ingedien teen diegene wat volgens hom verantwoordelik kan wees vir die ernstige beserings wat Sky opgedoen het.
Hy het die saak ook na die nasionale hoofkantoor van die Dierebeskermingsvereniging se Spesiale Projekte Eenheid en die Suid-Afrikaanse Veterinêre Vereniging verwys vir onafhanklike ondersoek.
Sky is ’n vyfjarige Belgiese Malinois, wat volgens Cameron as ’n polisiedienshond gewerk het en in brandstigtingsopsporing opgelei is.

Volgens ’n amptelike veterinêre sertifikaat wat deur Cameron aangehaal en op 28 Augustus uitgereik is, was Sky sedert Maart by die K9-polisieeenheid op Roodeplaat in Pretoria-Noord. Sy het voorheen haar gesig en bene beseer en tande uit haar kakebeen geskeur in pogings om uit haar aanhouding te ontsnap.
Die sertifikaat beskryf haar ontsnappingspogings as ‘deurlopend en kompulsief’ en dui volgens Cameron daarop dat sy korrek met skeidingsangs en ernstige kennel stress gediagnoseer is.
Volgens Cameron dui die dokument daarop dat Sky aangehou probeer ontsnap het wanneer sy alleen gelaat is.
Dit het ook aangedui dat haar prognose om in die polisieomgewing te kan werk swak was en dat haar welsyn deur haar aanhouding in dié omstandighede benadeel is.

Cameron het aan Rekord verduidelik dat inligting wat aan hom verskaf is, dui daarop dat Sky vir ongeveer 18 uur per dag in ’n klein binnenshuise hondehok aangehou is, in ’n vertrek sonder natuurlike lig. Volgens hom het dié situasie vir minstens 160 dae voortgeduur.
Die hond is volgens hom na bewering van Sondagmiddag af sonder toesig gelaat voordat sy Maandagoggend ernstig beseer gevind is.
Cameron het gesê die polisie kan volgens hom nie beweer dat die gevaar heeltemal onvoorsienbaar was nie, aangesien die organisasie se eie veterinêre rekords die risiko kort voor die voorval gedokumenteer het.
Sky is ná die voorval vir noodbehandeling na Onderstepoort se dierehospitaal geneem waar sy nou versorg word.
Cameron het beklemtoon dat sy optrede nie op hondemeesters of ander toegewyde SAPS-hanteerders gemik is nie, maar op die vraag of bestuursbesluite en waarskuwings oor Sky se welsyn behoorlik hanteer is.
“Diegene wat verantwoordelik hiervoor bevind word, moet geïdentifiseer word en rang moet nie beskerming bied indien die bewyse vervolging regverdig nie.”
Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het ’n senior offisier aangestel om ondersoek in te stel na die omstandighede rondom die ernstige beserings van Sky.
Waarnemende nasionale kommissaris, luitenant-generaal Puleng Dimpane, het die ondersoek gelas en gesê Sky se welsyn bly ’n prioriteit.
“Sy is een van ons eie, nadat sy saam met ons lede gedien het en aan ons sorg toevertrou is. Haar welsyn bly ’n prioriteit, en sy ontvang die nodige veeartsenykundige sorg en aandag,” het Dimpane gesê.
Volgens Dimpane is Sky nie meer ’n operasionele K9 nie en het sy voorheen uit haar hokke by haar vorige K9-basis in Limpopo ontsnap.
Sy is gevolglik by die veeartsenykundige fasiliteit in Roodeplaat gehuisves terwyl reëlings getref is om haar aan ’n geskikte nuwe eienaar oor te plaas. Die skenkingsproses was volgens Dimpane steeds aan die gang toe die voorval plaasgevind het.

Dimpane het gesê die ondersoek sal onder meer Sky se huisvesting, toesig, versorging en die nakoming van toepaslike prosedures ondersoek.
“Dit sal voortydig wees om nalatigheid of oortreding toe te skryf voordat al die feite vasgestel is,” het Dimpane gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel
