Hondsdolheid: Mariene-uitbreking bring groter fokus

Die uitdaging op 28 September is nie bloot om oor hondsdolheid te praat nie, maar om seker te maak dat meer diere ingeënt word, diere-eienaars die risiko verstaan en minder gesinne die gevolge van ’n voorkombare siekte hoef te dra.

Pretoria se kampvegters vir dierewelsyn maak gereed om op Wêreldhondsdolheidsdag, 28 September, weer ’n dringende beroep op gemeenskappe te maak om waaksaam te wees teen ’n siekte wat voorkombaar is, maar steeds lewens eis.

Die tema vir vanjaar se bewusmakingsdag “Sterker Saam” beklemtoon dat die bekamping van hondsdolheid nie net die verantwoordelikheid van veeartse of gesondheidsowerhede is nie, maar ook ’n persoonlike plig as jy ’n diere-eienaar is.

Vir Moot-inwoner Werna Venter, stigter van die Carlie Rooivlag Hondsdolheid-bewusmakingsprojek, het haar stryd teen hondsdolheid oor die afgelope dekade gegroei van ’n persoonlike missie tot ’n uitgebreide bewusmakings- en uitreikingsprojek.

Haar betrokkenheid spruit uit persoonlike ervaring nadat ’n familielid, Carlie du Plessis, aan hondsdolheid gesterf het.

Venter sê haar eie leerkurwe oor die siekte was steil, maar dat die jare se betrokkenheid haar toegerus het met meer en meer kennis en vasberadenheid om ’n verskil te maak.

Sy is veral bekommerd oor mense wat steeds nie die siekte ernstig genoeg opneem nie.

Volgens haar kan groter openbare belangstelling tans in hondsdolheid onder seelewe, moontlik ook ’n nuwe keerpunt vir algemene bewustheid bring.

Minstens 176 mense is reeds deur Kaapse pelsrobbe gebyt langs Suid-Afrika se wes- en suidkus te midde van ’n voortslepende mariene hondsdolheid-uitbreking.

Die Departement van Landbou het Suid-Afrikaners in Augustus versoek om verantwoordelike troeteldiereienaarskap, gereelde inenting en vinnige optrede ná moontlike blootstelling voorop te stel.

Landbouminister Willie Aucamp sê: “Geen mens behoort aan ’n siekte te sterf wat voorkombaar is nie.”

Hy het benadruk dat die inenting van honde en katte, die aanmelding van vermoedelike gevalle en onmiddellike mediese sorg ná blootstelling noodsaaklik is.

Volgens Aucamp bly hondsdolheid ’n bedreiging in al nege provinsies, met belangrike brandpunte in Limpopo, KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap.

In KwaZulu-Natal is daar tussen middel-Junie en die laaste week van Augustus, 21 nuwe bevestigde gevalle van hondsdolheid by diere aangemeld.

Die gevaar het ook reeds tot sterftes onder mense gelei. Die eThekwini-munisipaliteit het in Augustus bevestig dat twee volwasse mans uit die Ethenjane-gebied aan hondsdolheid gesterf het nadat hulle vermoedelik op 4 Julie aan dieselfde hond blootgestel is.

’n Diere-inentingsveldtog is reeds op 28 Julie in Ethenjane, Emapayipini en Mgalaza gehou.

Venter se projek sluit by dié soort praktiese gemeenskapswerk aan. Sy het onlangs namens die Carlie Rooivlag Hondsdolheid-bewusmakingsprojek, 525 hondsdolheid-inentings versprei na organisasies wat met dierewelsyn werk en beplan om op 28 September saam met ’n dierewelsynsorganisasie verdere inentings en inligtingsmateriaal in die Kameeldrift-omgewing te versprei.

Inenting van diere teen hondsdolheid is ’n wetlike vereiste, maar die werklikheid op straat is dat talle diere, veral rondloperhonde, steeds buite die formele stelsel val.

Een van Venter se doelwitte is daarom om gemeenskappe met groot getalle rondloperhonde te bereik. Haar werk in sulke gemeenskappe fokus nie slegs op bewusmaking nie, maar ook op die praktiese beskerming van diere en mense.

’n Finansiële skenking van R20 000 aan die projek verlede jaar deur radiostasie GROOTfm 90.5 het Venter in staat gestel om vanjaar meer organisasies toe te rus om inentings by hul dierewelsynswerk in te sluit.

Nog ’n Pretoria-uitreikingsinisiatief neem vanjaar die bewusmaking verder. ’n Span sal vanuit Pretoria na die Kalahari reis om onder meer met bewusmaking rondom dierewelsyn ook hondsdolheid-inentings en leesmateriaal uit te deel.

Studente van die Fakulteit van Veeartsenykunde te Ondertepoort speel weer eens vanjaar ook ’n rol met die bekamping van hondsdolheid.

Lede van die International Veterinary Students’ Organisation werk jaarliks saam met Wollies-diereskuiling aan ’n hondsdolheid-inentingsveldtog. Die projek bereik minderbevoorregte gemeenskappe en bied hondsdolheid-inentings sowel as behandeling teen bosluise en vlooie aan.

Die bedreiging is egter nie tot honde en katte beperk nie. Enige soogdier kan hondsdolheid opdoen, insluitend vee, wild en mense.

Langs Suid-Afrika se wes- en suidkus is daar kommer oor die uitbreking van hondsdolheid onder Kaapse pelsrobbe.

Navorser dr. Tess Gridley en kollegas waarsku dat die siekte nou endemies onder dié spesie kan wees en dat verdere verspreiding gevolge vir mense, toerisme en ander seesoogdiere kan hê.

– Kliek hier om meer van Minister Aucamp se boodskap te sien: https://www.facebook.com/reel/1088666230383048

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button